Local NewsNews

Munisipaliteit stil na watermeter ‘n ander lesing as rekening wys

Die einde van Aretha Tehuis se munisipalerekening-nagmerrie is nog nêrens in sig nie.

POLOKWANE – Die einde van Aretha Tehuis se munisipalerekening-nagmerrie is nog nêrens in sig nie.

Ina Koen, die matrone van die tehuis sê sy weet nie meer wat om te doen nie.

Die tehuis se rekening was verlede maand R32 000.

Review het die saak ondersoek en gevind dat ‘n moontlike rede vir hierdie hoë rekening ‘n verkeerde watermeter-lesing kon wees.

Tydens Review se besoek aan die tehuis verlede maand, het die watermeter-lesing op 7 229 eenhede gestaan, maar op die munisipale rekening word die watermeterlesing op 33 551 eenhede aangedui.

Volgens Koen het die probleem reeds in Julie verlede jaar begin, en elke maand het die rekening met R3 000 gestyg al het hulle betaal.

“Ons rekening was nog nooit meer as R3 000 nie. Ons het ook nog nooit ‘n betaling oorgeslaan nie en ek het bewys van betaling. Wat ek nie kan verstaan nie, hoe is dit moontlik is vir ‘n rekening om met R3 000 te styg?” vra Koen.

Koen sê die munisipaliteit dring daarop aan dat hulle die hoë munisipale rekening moet betaal.

“Ek het nie soveel geld nie. Al gee hulle my afslag sal ek dit nogsteeds nie kan bekostig nie. Iewers moet daar ‘n fout wees, want daar is nie ‘n manier dat ons meer as R30 000 kan skuld nie. Ons moes ook R230 betaal vir ‘n nuwe watermeter, want die munisipaliteit het ons watermeter gevat vir toetse om seker te maak dit werk,” sê Koen.

Tidimalo Chuene, ‘n munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit het die bewerings ondersoek en gevind dat die watermeterlesing op die watermeter met dié op die rekening ooreenstem en dat daar nie ‘n fout is nie.

Review het aan Chuene bewys gestuur dat die twee inderwaarheid nie korreleer nie.

Meer as ‘n week later, kon Chuene nie kommentaar lewer oor die saak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button