Veld tussen Eduanpark en brug is boewe se skuilplek
Verlede Woensdagmiddag is 'n inwoner van Eduanpark, wat met sy twee jong honde gaan stap het en besig was om hulle op te lei, in 'n rooftog by die veldjie tussen Loganstraat en die spoorlyn deur twee boosdoeners aangeval en met messe gedreig.

POLOKWANE – Verlede Woensdagmiddag is ‘n inwoner van Eduanpark, wat met sy twee jong honde gaan stap het en besig was om hulle op te lei, in ‘n rooftog by die veldjie tussen Loganstraat en die spoorlyn deur twee boosdoeners aangeval en met messe gedreig.
Hy is van sy besittings beroof.
Volgens Antuanette Pretorius van die Edwel-buurtwag, het twee mans die slagoffer genader en gevra of hy sy honde oplei.
Hy het hulle geantwoord en hulle het begin weggestap. Toe hy buk om die leibande om sy honde se nekke te sit het hulle hom egter oorval en van sy besittings beroof.
Die aanval is aan die polisie gerapporteer.
Pretorius het ook vertel dat ‘n man se fiets Vrydagmiddag by die Eduanpark kafee gesteel is. Een van die Edwel-buurtwaglede het toevallig op daardie stadium verbygery en gesien hoe ‘n man weghardloop.
Oomblikke daarna het die buurtwaglid ook gesien hoe ‘n ander man weggehardloop. Die Edwel-lid het gestop om navraag te doen en is meegedeel dat die tweede man pas van sy fiets beroof is by die kafee.
Hulle het gemerk hoe die rowers in die veld by Loganstraat hardloop en Edwel-lede het solank na die oorbrug in Landros Maréstraat by die industriële-gebied beweeg.
Die rowers het net langs die brug weer uitkom.
Pretorius het vertel een van die Edwel-lede het die mans per voet agtervolg in die veld, maar hulle het omgedraai en op hom afgestorm met ‘n mes. Hy kon daarin slaag om ongedeerd weg te kom. Die fiets is teruggekry.
Die mans was gewapen met messe en het nog elke keer in die middag tussen 16:00 en 18:00 toegeslaan, het Pretorius gewaarsku.
Pretorius het gevra dat inwoners wat hierdie mans opmerk, asseblief die noodnommer moet skakel sodat die nodige rëelings getref kan word en genoeg mannekrag bymekaar gekry kan word sodat hierdie rowers vir eens en vir altyd gevang kan word.
Beskrywing van die rowers: twee lenige jong swart mans, tussen 18- en 23-jaar-oud, met ‘n gelerige, ligbruin velkleur, ongeveer 185cm – 190cm lank.
Hulle hare is nie geskeer nie. Voorheen het een van hulle ‘n rooi hemp aangehad en Vrydagmiddag ‘n helder geel hemp.
Inwoners van Eduanpark en Welgelegen word uitgenooi na die Edwel Buurtwag se algemene jaarvergadering wat vandag (Dinsdag) om 17:30 by die Welgelegen parkie (h/v Potgieter en Die Meerstraat) sal plaasvind.
Daar moet ‘n nuwe bestuur verkies word en inwoners se teenwoordigheid en stemme is noodsaaklik ten einde te verseker dat die inisiatief sal bly voortbestaan om ‘n positiewe verskil in inwoners se lewe te kan maak.



