POLOKWANE – Die bestuurder van ‘n blou Volkswagen Polo is steeds soek nadat die bestuurder van hierdie motor Gary Stephen (49) vermoedelik raakgery en van die toneel weggejaag het op 5 Oktober verlede jaar.
Die ongeluk het op die hoek van Mc Donald- en Marshallstraat in Florapark plaasgevind. Stephen het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Volgens polisie-inligting is die voertuig ter sprake ‘n nuwe Volkswagen Polo, jaarmodel tussen 2008 en 2010, wat aan beide kante beskadig is. Aan die regterkant is die gedeelte van waar misligte geplaas is afgebreek tydens die slag van die ongeluk en aan die linkerkant is die paneel en buffer beskadig.
Die Polokwane polisie ondersoek steeds ‘n saak van strafbare manslag.
A.O. Lesiba Ramoshapa, Polokwane polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie. “Ons pleit by die gemeenskap om asseblief na vore te kom indien hulle enige inligting het, wat ons kan help met die ondersoek. Die saak is nog nie afgehandel nie en ons ondersoek sal voortduur tot die hof anders besluit.”
Enige persoon met inligting kan A.O. Len Lubbe by 084 602 2398 kontak.



