Editor's choiceLocal NewsNews

Man sterf by dans

oe ek Saterdagaand die Mandjiedans by Genl. Piet Joubert-skool bygewoon het om oulike foto's van dansende paartjies vir Review te neem, het ek nooit kon dink die dans sou tot 'n tragiese stilstand gekom na Jan Kruger (57) se dood op die dansvloer nie.

POLOKWANE – Toe ek Saterdagaand die Mandjiedans by Genl. Piet Joubert-skool bygewoon het om oulike foto’s van dansende paartjies vir Review te neem, het ek nooit kon dink die dans sou tot ‘n tragiese stilstand gekom na Jan Kruger (57) se dood op die dansvloer nie.

Net voor 20:00, terwyl ek by die organiseerders van die Mandjiedans staan en gesels het om die tyd te verwyl totdat die Suikerbos Dansorkes ‘n ruskans neem en ek my laaste foto van die dag kon neem, het die ligte in die skoolsaal skielik aangegaan en die musiek stilgeword.

Oom Jan het geval.

Oom Jan, was besig om met sy susterskind, Elaine Bannink, te dans op die maat van die Suikerbos Dansorkes se musiek toe hy inmekaargesak het. Elaine het uitgeroep en was duidelik naby aan histeries teen die tyd wat ek by haar uitgekom het.

Dit het gelyk of Oom Jan ‘n hartaanval gehad het.

Bystanders en ‘n plaaslike verpleegster het hom onmiddellik bygestaan en mond-tot-mond asemhaling toegepas vir wat soos ure gevoel het terwyl ons vir die ambulansdienste gewag het. Wat na ure gevoel het, was sekerlik nie meer as tien minute nie.

Ek het tevergeefs probeer om Elaine te kalmeer en selfs ‘n goeie vriend, wat bande met die ambulansdienste het, geskakel en gevra waarom die ambulans dan nou so lank vat. “Dit is ‘n kwessie van lewe en dood, ouens!”

Dit het nog gelyk asof oom Jan weer asemhaal en toe… niks, geen pols nie. Maar mens moet alles probeer om ‘n lewe te red en die twee vroue wat om die beurt noodhulp toegepas het, het nooit opgehou nie.

Een van die ouer mans by die dans, Pieter Cornelius van Mookgophong, het vir Oom Jan en die familie gebid en gevra dat die Here almal moet dra. Teen die tyd wat die ambulanse opgedaag het, was dit reeds verby en het die organiseerders versoek dat die skoolsaal ontruim word om die familie privaatheid te gee om ‘n laaste totsiens te sê aan hul geliefde Oom Jan.

Die aand se langarmdans was verby en die gaste het huiswaarts gekeer.

Terwyl ek buite die saal ‘n sigaret staan en rook het vir die skok, het ek iemand hoor sê: “Hy het glo ‘n swak hart gehad. As jy my vra is dit nie ‘n slegte manier om te gaan nie.”

Ek stem saam. Oom Jan was omring deur mense wat vir hom lief was en hy het nie gely nie. Hy het vir oulaas een laaste dans saam met sy geliefde susterskind gedans en in sy element gesterf.

Volgens sy suster, Annette Bloufield, het hy ‘n hartaanval gehad.

“Die dokters sê hy was basies dood teen die tyd wat hy die vloer getref het,” verduidelik sy.

Annette het vertel dat Jan met ‘n swak hartklep gebore is, maar dat hy gesond was en die klep nog nooit regtig probleme gegee het nie. “Hy het nie eers medikasie gebruik nie. Hy was gesond en was baie lief vir dans en perdry,” vertel sy.

Oom Jan het glo baie uitgesien na die Mandjiedans en die Suikerbos Dansorkes se optrede. Hy en Elaine het haar ma, Annette, kom help trek na ‘n nuwe huis op ‘n plot buite die dorp en hy wou vreeslik graag gaan dans en ook perdry voor hy weer terug na Makhado sou keer.

Oom Jan word Saterdag om 12:00 tot rus gelê by die begraafplaas in Makhado waar ook ‘n roudiens vir hom gehou sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button