GPF vir plotte en plase loods ‘n veldtog om polisie by te staan
Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir plotte en plase in en om Polokwane het op 14 Junie 'n veldtog geloods om die gebied gereeld te patrolleer in samewerking met die polisie.
POLOKWANE – Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir plotte en plase in en om Polokwane het op 14 Junie ‘n veldtog geloods om die gebied gereeld te patrolleer in samewerking met die polisie.
Volgens Jannie Grobler, sameroeper van hierdie veldtog, is die doel van die veldtog om sigbare patrolering in te span in misdaadbekamping en om bewusmaking te skep vir die GPF vir plotte en plase.
Grobler het elke lid van die GPF, elke inwoner wat betrokke was asook die Westenburg polisie bedank vir hul samewerking en opofferings.
Die polisie het die stad en omliggende plotte en plase in verskillende GPF-sektore verdeel.
Elke sektor het ‘n bestuur aangestel wat uit inwoners bestaan.
Die forums het die volgende ten doel:
• Die daarstelling en handhawing van ‘n vennootskap tussen die gemeenskap en die polisie;
• Motivering van kommunikasie tussen die gemeenskap en die polisie;
• Samewerking tussen die gemeenskap en die polisie om ten einde aan die polisie die no-dige inligting te verskaf oor die veiligheidsbehoeftes van die gemeenskap en hoe om dit te bevredig;
• Verbetering van die polisie se dienslewering aan die gemeenskap op grondvlak;
• Verbetering van deursigtigheid asook die verantwoordelikheid van die polisie;
• Motivering van samewerking en probleem-oplossing tussen die polisie en die gemeenskap;
• Oorsig van die effektiwiteit van die polisie in die gemeenskap, en
• evaluering van alle opsigtelike polisiëring in die gemeenskap.
Alle plotte en plase rondom Polokwane vorm een sektor, met konst. Pieter de Lange en konst.
Kenny Maleka as bevelvoerders namens die Westenburg polisie en lt. Isaac Sebola as bevelvoerder namens die Polokwane polisie.
Buks Korff is die verkose voorsitter van die sektor namens die inwoners van die plotte en plase rondom Polokwane en die ondervoorsitter is Grobler.
Grobler versoek inwoners om te let op die volgende:
• Sluit waardevolle items toe in ‘n stoorkamer.
• Sluit hekke en voertuie en verwyder waardevolle items uit voertuie.
• Moenie sleutels laat rondlê nie. Bewaar ‘n lys van sleutelnommers, verwyder die nommers vanaf sleutels om duplisering te voorkom.
• Belig die perseel behoorlik.
• Maak stukkende heinings so spoedig moontlik reg, want boosdoeners toets die eienaar se oplettendheid en reaksietyd.
• Moenie honde wat aanhoudend blaf of vreemd optree ignoreer nie.
• Moenie verkondig wanneer die perseel onbewoon sal wees nie.
• Moenie vreemdelinge in diens neem nie en onthou dat werkers soms gemanipuleer en gedreig word.
• Patroleer jou eie grond daagliks, skep bewustheid en wees oplettend.
• Skaf ‘n noodradio aan, ken jou bure en weet waar om jou buurman in die hande te kry in ‘n noodgeval.
• Doen ten alle tye brandvoorbereiding en maak seker jou gesin ken alle noodnommers.
GPF vir plotte en plase se kontakbesonderhede:
• Doornbult, Soetdorings en omliggende gebiede, Anthony Page by 083 272 3230.
• Tweefontein en omliggende gebiede, Ockert Fourie by 081 353 8573.
• Dalmada en omliggende gebiede, Karel Bezuidenhout by 084 212 0733.
• Myngenoegen en omliggende gebiede, Johan van den Heever by 082 565 4255.
• Leeukuil en omliggende gebiede, noodnommer, 083 635 7200
• Roodepoort en omliggende gebiede, Jannie Grobler by 084 549 1729.



