EntertainmentLifestyleLocal NewsNews

Van kampioenkok na Kokkedoorkok

Na 13 weke se bak en brou is Elsa Buys (57) van Clarens in die Vrystaat en Johnny Hamman (30) oud-inwoner van Polokwane wat nou in Kaapstad woon, Suid-Afrika se nuutste KykNet Kokkedoor-kampioene.

POLOKWANE – Na 13 weke se bak en brou is Elsa Buys (57) van Clarens in die Vrystaat en Johnny Hamman (30) oud-inwoner van Polokwane wat nou in Kaapstad woon, Suid-Afrika se nuutste KykNet Kokkedoor-kampioene.

Inwoners en ou vriende van Johnny het vertel hulle was bly dat hy gewen het en sommiges het selfs ‘n traan of twee afgevee omdat sy oorwinning so onverwags vir hom was.

In die laaste episode van die kompetisie moes die Kokkedoor-finaliste die towerkrag terugsit in die middernaguur, net soos dit was in al die sprokies en feëverhale van ouds. Hulle moes ‘n betowerende en nostalgiese middernagfees voorsit.

Johnny het aan Review vertel dat hy verligting gevoel het die oomblik wat hy gehoor het dat hy en Elsa die kompetisie gewen het.

“Dit was eintlik ‘n groot skok. Ek het nie geglo ek gaan wen nie. Die ongelooflike trots wat oomblikke later oor my gespoel het kan ek nie in woorde omsit nie.

“Dit kon nie anders nie, die trane moes loop.”

Hy het verduidelik dat hy dink hy en Elsa kan beide buite die gewone denkraamwerk dink en het mekaar goed aangevul in die kombuis.

Daarom het hulle met die louere weggestap.

Dié twee bobaaskokke het vertel hulle gaan vir eers op feeste konsentreer en hulle reis het begin by die Innibos Kunstefees wat oor die naweek in Nelspruit plaasgevind het.

Johnny en Elsa het die feesgangers beïndruk met ‘n sjokoladebiltongtert wat met ‘n koejawelsfeer afgerond is.

Hoërskool Pietersburg het verlede week ‘n gasvryheidstoer deur die Wes-Kaap aangebied vir leerders en die leerders het ook by Johnny gaan kuier. Johnny het vertel dat hy hierdie kuiertjie baie geniet het.

“Dis altyd lekker om jou eie mense te sien en ek het ‘n baie sterk band met van die onderwysers wat saamgetoer het.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button