Verteer tot net as
'n Verwoestende brand het Vrydagoggend die Spies-gesin van Doornkraalstraat se lewens onherroeplik verander toe dit die meeste van hul besittings en klere in puin gelê het.
POLOKWANE – ‘n Verwoestende brand het Vrydagoggend die Spies-gesin van Doornkraalstraat se lewens onherroeplik verander toe dit die meeste van hul besittings en klere in puin gelê het.
Annica Spies was besig om vir haar twee kinders, Jaden (4) en Chantené (3), hul ontbytpap te gee op die grondvloer van hul dupleks-woonstel toe hulle rook van die boonste verdieping sien kom het.
Haar man, Hendrik het reeds na sy werk vertrek.
Jaden het met die trappe opgehardloop en begin gil.
Teen die tyd wat Annica die boonste verdieping bereik het, was die mat sowel as ‘n gedeelte van een van die beddens reeds aan die brand. “Daar was ‘n waaier aan in die vertrek, want ek het die matte gewas,” vertel sy.
Annica het onmiddellik handdoeke en komberse in die stort natgemaak en die vlamme begin blus. Haar pogings was egter vergeefs en die vlamme het buite beheer geraak.
Bure wat die gille gehoor en die rook gesien het, het kom help en probeer om meubels te red, asook om die kinders na ander woonstelle in die kompleks te neem sodat hulle veilig sou wees.
‘n Matras, bababed en twee plastiekmotorfietsies is al wat uit die boonste verdieping gered kon word.
Al die gesin se klere, beddens, beddegoed, hul wasmasjien en ander meubels is vernietig.
Die dak en plafon het later ingestort en die vlamme het versprei na die woonstel langsaan waar omstanders die meubels en beddegoed oor die balkon na die woonstel langsaan aangegee het.
Die dak van die tweede woonstel het kort daarna ook ingestort terwyl brandbestryders die brand probeer blus het.
Hendrik Spies vertel hy en van sy kollegas het hul dadelik na die toneel gehaas toe hy van die brand gehoor het.
Niemand is beseer tydens die brand nie, maar Anicca is vir rook-inaseming behandel.
Tydens Review se besoek aan die toneel, was geen brandbeheertoerusting of aanduidings waar moontlik brandblussers kon wees in die woonstelkompleks sigbaar nie.
Die eienaar van die geboue, Mike Adendorff, sê daar was brandblussers maar, “die goed raak gesteel”. Hy sê hy verhuur al baie jare eiendomme en dit is die eerste keer dat daar ‘n brand voorkom.
“Ons het onmiddellik almal gestuur wat ons kon om te help om die brand te blus.”
Adendorff sê hy het die bure van die woonstel waar die brand ontstaan het by ‘n oornagplek ingeboek. Die skade aan die struktuur beloop sowat R50 000 volgens Adendorff.



