Makhado-inwoner se visier ingestel op dié morsjorse
Review het in die verlede verskeie keer berig oor mense wat hul rommel onwettig op oop stukke veld in Makhado stort. Nou sê een inwoner sy gaan nie meer hierdie onwettige rommelstrooiery duld nie.
MAKHADO – Review het in die verlede verskeie keer berig oor mense wat hul rommel onwettig op oop stukke veld in Makhado stort. Nou sê een inwoner sy gaan nie meer hierdie onwettige rommelstrooiery duld nie.
Josie de Lange woon in Pretoriusstraat in Makhado en sy sê sy is baie ongelukkig omdat mense die oop stuk veld oorkant haar huis gebruik om van hul bourommel en tuinvullis ontslae te raak.
De Lange sê sy takel gereeld mense wat by dié stuk veld stop om sakke vol rommel af te laai.
“Ek het selfs al vir mense gevra om hulle rommel weer te verwyder terwyl hulle nog besig was om dit af te laai. Ek verduidelik mooi vir hulle dat hierdie nie die stortingsterrein is nie, maar hulle ignoreer my net; klim in hulle motors en ry weg,” vertel sy.
Sy vertel Sater-dag het ‘n man weer sakke vol vullis oorkant haar huis afgelaai.
Sy sê sy het breekpunt bereik en besluit om in die sakke te krap om ‘n naam of adres te kry om sodoende die skuldiges aan die pen te laat ry.
“Ek het my voete stukkend gehardloop in die teerpad af om die man te stop en te vra om asseblief nie sy rommel hier af te laai nie. My pleidooie het op dowe ore geval. Ek het ‘n naam en adres in die sakke gekry en foto’s van die man, sy motor en registrasienommer geneem. Ek kan nie gedurig skoonmaak waar ander mense onwettig rommel stort nie.”
Review is in besit van die naam en adres wat De Lange uit die sakke gekry het, sowel as die registrasienommer van die motor wat gebruik is.
Louis Bobodi, woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, sê dat die munisipaliteit glad nie onwettige rommelstorting duld nie en dat die munisipaliteit nie sal huiwer om oortreders te vervolg nie.
“Inwoners moet ten alle tye van die munisipale stortingsterrein gebruik maak. Onwettige storting is onaanvaarbaar,” sê hy.
Bobodi sê die munisipaliteit sal die inligting wat De Lange gekry het gebruik om die oortreder op te spoor. “Indien ons ondersoeke sou wys die persoon is skuldig, sal ons beslis geregtelike stappe teen hom neem,” sê hy.



