Om te leef die enigste opsie
Polokwane's Miracle Baby will turn two this weekend. Here's how Review broke the story in 2012.

Polokwane’s Miracle Baby will turn two this weekend. Here’s how Review broke the story in 2012.
Wat vroeg daardie Vrydagoggend in Augustus 2012 as ‘n hartverskeurende storie begin het, het met harde werk en toewyding van noodpersoneel in ‘n suksesverhaal geëindig.
‘n Motor het die Vrydag na bewering die waarskuwing van ‘n aankomende trein verontagsaam, en ‘n jong swanger vrou het met haar lewe daarvoor betaal. Volgens omstanders is die motor deur die trein aan die agterkant getref en ‘n paar meter saam
gesleep voordat dit van die spoor afgeslinger is en in bosse geland het. Die bestuurder van die voertuig, die vrou se 27-jarige vriend is vir kopbeserings behandel, en die passasier, ‘n 24-jarige swanger vrou is op die toneel dood verklaar, nadat sy vermoedelik haar nek in die botsing gebreek het.
“Toe ek besef die vrou is swanger het ek besluit om die kans te vat en te toets vir die geringe kans dat die baba nog lewe. Ek het die stetoskoop op die vrou se maag gesit en daar was dadelik ‘n skop, net daar het alles verander en niks het meer saak gemaak, behalwe om die kleinding te red nie,” het EMS operasionele bestuurder, David Dennison gesê.
Die vrou is na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal vervoer waar ‘n nood keisersnit gedoen is, en die dogtertjie binne ongeveer 20 sekondes nadat hulle by die hospitaal aangekom het, verlos is.
Volgens die paramediese personeel wat bygestaan het, het die meisie kort daarna op haar eie begin asem haal en haar reflekse was normaal.
Sy is per helikopter na Mankweng Hospitaal geneem waar sy verder gemonitor sal word. Volgens die vlieënier Johan Stone van AMS is dit gevalle soos hierdie wat elke bietjie slegte nuus net draaglik maak. “Dis ons passie om lewens te red,” het hy gesê.
Volgens die woordvoerder, Phuti Seloba wil die departement van gesondheid al die betrokke spanne van die hospitaal en nooddienste bedank en gelukwens met hul goeie werk.
“Daar is nie woorde om te beskryf hoe trots die departement op hierdie mense is nie. Hierdie is ‘n bewys van die opgradering wat die provinsiale hospitaal ondergaan het en die vordering wat reeds tot sulke suksesse lei,” het Seloba gesê.
Na ‘n kompliment oor die goeie werk wat deur die paramediese spanne van EMS en AMS gedoen is het David Dennison gesê: “Ons doen dit nie vir erkenning nie, ons doen dit vir die liefde daarvan. Ons wil lewens red”.
Volgens Lesiba Ramoshaba, die woordvoerder van die polisie, is ‘n saak van strafbare manslag teen die 27-jarige bestuurder geopen, maar die oorsaak van die botsing word steeds ondersoek







