Rowers rand pa en seun aan op plaas
Wat begin het as 'n heerlike gesellige aand saam met vriende, het in 'n nagmerrie geëindig vir 'n pa en seun toe drie gewapende mans hulle op hul plaas buite Makhado aangeval het.
MAKHADO – Wat begin het as ‘n heerlike gesellige aand saam met vriende, het in ‘n nagmerrie geëindig vir ‘n pa en seun toe drie gewapende mans hulle op hul plaas buite Makhado aangeval het.
Stefan Pieterse het aan Review vertel dat hy en sy seun Justin (12) buite langs die vuur gesit het nadat hulle vroeër die aand saam met vriende gebraai het.
“Drie mans het ons oorrompel en vir Justin gegryp. Een van die mans het sy pistool teen Justin se kop gedruk en ‘n ander het vir my gesê hy weet my been is vergruis. Hy het ‘n skokstok teen my been gedruk,” het hy vertel.
Stefan se been is twee jaar gelede beskadig weens ‘n bakteriële infeksie wat hy na ‘n beenbreuk opgedoen het en die been is in die proses so te sê vergruis.
Stefan het gesê die mans het hom en sy seun by die huis ingeneem waar hulle met kabelbande vasgebind is.
“Justin het onlangs ‘n operasie op sy arm ondergaan waar penne ingeplant is na ‘n rugbyongeluk. Hy het nog steke in dié arm, maar die mans het geen genade gehad nie. Hulle het die kabelbande oor die steke vasgemaak en ons met hulle pistole aangerand.”
Hy het vertel een van hulle klein hondjies het deur die hele nagmerrie op Justin se skoot gesit.
“Dit was asof die ou hondjie my seun wou beskerm.”
Nadat die mans kon-tant en wapens geëis het, het hulle die twee slagoffers aangesê om langs mekaar op die grond te lê en van mekaar afskeid te neem.
“Ons het mekaar gegroet en Justin het nog vir my gesê dat hy lief is vir my. Ek sal dit nooit vergeet nie. Mens vergeet nie hoe jou kind van jou moes afskeid neem nie.”
Daarna het die mans vir Stefan na die kluis geneem en hy het al die kontant in die kluis aan hulle oorhandig. Hulle het toe vir pa en seun in ‘n kas toegemaak en meubels en elektroniese toerusting uit die huis begin dra.
Stefan het gesê Justin se teenwoordigheid van gees het hulle gered.
“Justin is die eintlike held van hierdie verhaal. Hy het vir my gesê ek moet maak of ek dood is. Daarna het hy vir die mans geskree dat sy pa ‘n hartaanval gekry het en dood is. Een van die mans het die kasdeur effens oopgemaak en ingeloer. Kort daarna het al drie mans in hul voertuig gespring en weggejaag.”
Hy het vertel dat hulle sowat 10 minute gewag het voordat hulle die kasdeur oopgebreek het.
Beide was steeds vasgebind, maar Stefan het tot by die kamerdeur gekom en dié ook oopgebreek. Hy het vir Justin losgemaak en dié het gehardloop om by hul plaaswerkers hulp te kry.
Volgens Stefan het Justin ‘n selfoon in die hande gekry en dadelik die buurtwag en polisie gebel.
“Dis ‘n verskriklike gevoel om ‘n pistool teen jou kop te voel en te sien hoe iemand ‘n pistool teen jou seun se kop druk. Die mans het ons vir 45 minute aangehou en gemartel. Arme Justin is vol bloukolle en hulle het ook my keel met ‘n mes gesny.
“My seun is my held. Hy is ‘n sterk kind. Hy het so mooi kopgehou.”
Stefan en Justin het gesê hulle wil vir Pieter Ackerman, wat eerste op die toneel was, bedank asook die buurtwag en die Makhado polisie vir hulle besondere vinnige optrede.
Makhado polisiewoordvoerder, Takalani Madzhigili, kon teen druktyd nie kommentaar lewer nie.



