Smart na nóg ‘n jong dood
'n Oud-leerder van Hoërskool Pietersburg het Sondagmiddag na 'n ongeluk op die gruispad na Mogwadi verby Soetdorings, gesterf.
POLOKWANE – ‘n Oud-leerder van Hoërskool Pietersburg het Sondagmiddag na ‘n ongeluk op die gruispad na Mogwadi verby Soetdorings, gesterf.
Die 20-jarige Themaine Delport, beter bekend as Tammy, en haar vriendin Larisca Uijs, die suster van Tammy se vriend Dirk, het vermoedelik beheer verloor oor die bakkie waarin hulle gery het.
Dirk en nog ‘n persoon wat in ‘n tweede bakkie agter hulle gery het, kon weens die stof nie té naby aan die bakkie waarin Tammy en Larisca was, gery het nie en het volgens ooggetuies nie die ongeluk sien gebeur nie.
Volgens Madelein Swanepoel, ‘n gemeenskaplike vriendin van Tammy en Dirk, het Dirk haar kort na die ongeluk laat weet dat Tammy op die ongelukstoneel gesterf het.
Adoons Roux en sy seun was op pad na hulle plaas en het op die ongeluk afgekom.
“Die twee jong manne was reeds op die toneel. Ek het die ambulans laat kom,” het hy aan Review vertel.
Volgens Roux is beide vroue uit die bakkie geslinger tydens die ongeluk.
Larisca het, volgens haar pa Francois, haar regterarm asook haar linkersleutelbeen gebreek en sy het harsingskudding asook kneusings op haar brein opgedoen.
“Sy het ook baie skaafwonde opgedoen toe sy uit die bakkie geslinger is. Sy is amper 80m van die bakkie af gevind,” het hy aan Review gesê.
Larisca is in Mediclinic Limpopo opgeneem.
‘n Boer van die omgewing wat nie geïdentifiseer wil word nie sê die pad is baie gevaarlik weens die los gruis op die oppervlakte, hy beweer die pad word selde geskraap
“Motors ry gewoonlik maar stadig op die pad. As daar nie ‘n vrag op die bakkie is nie, kan die voertuig baie rondspring op die ongelyke oppervlakte en mens kan maklik beheer verloor,” het hy gesê.
Zandria Howard was Tammy se netbalafrigter toe sy in 2012 in matriek was.
“Tammy het hard gewerk om haar doelwitte te bereik. Sy was vasberade en het altyd 100% gegee. Sy het ‘n sagte hart gehad en het ander maklik jammergekry.
“Haar sin vir humor was uitsonderlik en sy kon ‘n gespanne situasie op die netbalveld maklik ontlont deur ‘n grappie te vertel; dit was baie spesiaal.
“Sy was lief vir die lewe en wat sy gedoen het, het sy voluit gedoen,” het Zandria gesê.
Tammy is die derde van die 2012 PHS-matriekgroep wat haar lewe in ‘n ongeluk verloor het. In Desember 2012 het Wouter Shreckna in ‘n ongeluk gesterf en vroëer vanjaar is Dewald Erasmus ook in ‘n ongeluk oorlede.
Tammy het twee weke gelede verjaar en in een van die laaste inskrywings op haar Facebook-blad bedank sy haar familie en vriende vir hul gelukwense asook haar familie wat soveel moeite gedoen het om die dag “ekstra spesiaal te maak”.
“Aan al my vriende, baie dankie. Lief vir julle almal, sommer bitter baie.”



