POLOKWANE – Saterdag het Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum ‘n Osieteddie-kenmekaarpiekniek aangebied waar kleuters wat in 2015 by die Osieteddies aansluit hul klasmaats en onderwysers kon ontmoet.
In elke klas het ‘n vriendelike juffrou gewag wat gereed gestaan het om die kleuters te verwelkom en sommer ook naamplaatjies op hulle klere vas te steek.
Daarna kon die kleuters na hartelus met klei of buite op die speelapparaat gaan speel.
Al die kleuters was baie opgewonde om van mamma se rokspante ontslae te raak en daar het geen trane gevloei nie.
Elke kleuter het ook ‘n lekkergoedpakkie gekry wat hy óf by die skool kon geniet óf saam kon neem huis toe.
“Ek is opgewonde om volgende jaar in die Kampbereklas te wees,” het Nicolaas du Toit grootoog vertel terwyl hy sy nuwe hemp vir sy juffrou, Therésa du Toit gewys het.



