Editor's noteLocal NewsNews

Julia Alsemgeest gedryf deur haar liefde vir syfers

Julia Alsemgeest sê haar liefde vir syfers was van jongs af 'n sterk dryfkrag in haar lewe.

POLOKWANE – Julia Alsemgeest sê haar liefde vir syfers was van jongs af ‘n sterk dryfkrag in haar lewe.

Hierdie matrikulant van Hoërskool Pietersburg (PHS) is Dinsdag aangewys as een van die twee beste matrikulante van Limpopo. Sy deel hierdie eer met Johan Kruger, ook ‘n matrikulant van PHS.

Julia is ook aangewys as die tweedebeste gr. 12-wiskundeleerder in Suid-Afrika vir 2014.

“Syfers en wiskunde is my hele lewe. Ek hou daarvan om met syfers te werk en ek sal alles wat ek sien probeer uitwerk op ‘n wiskundige manier. Dit is in my bloed, ‘n passie wat ek nooit sal kan laat gaan nie,” sê sy.

Sy vertel haar wiskundepunte was nog altyd baie goed en sy het in gr. 11 selfs 100% behaal in die Junie-eksamen. Sy was ook van gr. 8 tot 12 onder PHS se top 10 akademiese presteerders.

Julia sal vanjaar aktuariële wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria begin studeer. Sy wil as aktuaris kwalifiseer en dan by ‘n maatskappy aansluit waar sy haar liefde vir syfers sal kan uitleef.

Sy is egter nie net ‘n boekwurm nie, maar is ook ‘n baie goeie danser en beoefen fotografie as stokperdjie.

Sy sê sy was uit die veld geslaan om te hoor hoe goed sy in die eindeksamen gevaar het.

“Mens het gewoonlik mos maar ‘n doelwit waarna jy mik en ek het gedink ek sou graag wou sien wat die Limpopo-prysuitdeling alles behels, maar ek het nooit gedink ek sou só goed doen nie,” sê sy.

“Ek is baie dankbaar vir wat ek kon regkry. Daar is nie woorde om te beskryf hoe ek gevoel het nie.”

Julia vertel dat sy en haar medewenner, Johan, beide studiebeurse, skootrekenaars en kontantpryse gewen het.

Sy sê dat sy haar vriende en onderwysers gaan mis.

“Daar is baie studente wat vertel dat die onderwysmetode tussen skool en universiteit hemelsbreed verskil. Ek gaan die persoonlike kontak mis wat die onderwysers van PHS aan leerders bied.”

Sy het haar dank uitgespreek teenoor haar ouers, familie, vriende en onderwysers.

“Vriende en onderwysers word ook soos jou familie en ek weet dat elkeen van hulle diep spore in my lewe getrap het wat my sal bybly vir die res van my lewe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button