Nuwe hoofstuk wag op Martin Kroh ná 20 jaar by PLS
Martin Kroh verruil Pietersburg Laerskool vir 'n onderhoofpos by Laerskool Louis Trichardt ná 20 jaar van diens en toewyding aan die skoolgemeenskap.
POLOKWANE – Ná 20 jaar as onderwyser by Pietersburg Laerskool (PLS) neem Martin Kroh binnekort afskeid van sy leerders, kollegas en die plaaslike skoolgemeenskap.
“Ek het aanvanklik hierheen gekom met ‘n passie vir die onderwys, ‘n liefde vir kinders en die begeerte om ‘n verskil in jongmense se lewens te maak. Vandag besef ek hoeveel hierdie skool in my eie lewe beteken het.”
Nuwe hoofstuk wag
Martin vertel dat die besluit om PLS te verlaat nie maklik was nie.
‘n Groot deel van my hart bly hier agter. Ek het besef daar kom ‘n tyd wanneer ‘n mens nuwe uitdagings moet aanvaar en buite jou gemaksone moet beweeg om verder te groei. Die geleentheid om as onderhoof by Laerskool Louis Trichardt aangestel te word, bied vir my ‘n nuwe hoofstuk waarin ek my ervaring, kennis en passie op ‘n ander vlak kan aanwend.
Hy beskryf die afskeid as ‘n mengsel van hartseer, dankbaarheid en opgewondenheid: Hartseer omdat hy afskeid neem van mense en ‘n omgewing wat ’n groot deel van sy lewe geword het, dankbaar vir die voorreg om deel van die skoolgemeenskap te wees en opgewonde oor die nuwe uitdagings wat voorlê.
Van die dinge wat hy die meeste gaan mis, is sy kollegas, die spanwerk en die ondersteuning, vertel hy.
“Ek sal veral die gevoel van behoort, die mense se teenwoordigheid en die unieke karakter van PLS mis.”
As hy sy tyd by PLS in drie woorde moet opsom, kies hy: groei, dankbaarheid en verbondenheid.
“Ek vertrek met meer as wat ek saamgebring het, en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.”
Die leerders was die hart van sy werk
Vir Martin was die leerders altyd die hart van sy werk. Hulle was die rede waarom hy elke dag met ‘n doel klas toe gegaan het en voortdurend nuwe maniere probeer vind het om hulle te bereik.
Hulle het my geleer om die wêreld vanuit verskillende perspektiewe te sien, geduldig te wees en nie te vinnig oor iemand te oordeel nie. Elke leerder het sy of haar eie persoonlikheid, drome, uitdagings en potensiaal gehad. Dit was ‘n voorreg om deel van daardie groeiproses te wees.
Martin laat PLS en die stad met goeie wense agter. Hy hoop die skool sal aanhou groei en ontwikkel en steeds ‘n plek wees waar leerders veilig voel, gehalteonderrig ontvang en die geleentheid kry om hul volle potensiaal te bereik.
Hy wens die personeel sterkte toe en hoop dat hulle steeds met passie en toewyding sal saamwerk, die skool se waardes sal uitleef en ruimte sal maak vir nuwe idees en ontwikkeling.




