MunicipalNews

Vreugde oor regmaak van strate in Westenburg taan na ontnugtering

Westenburg-inwoners se vreugde oor werk aan die slaggate in hul woonbuurt deur die munisipaliteit was van korte duur.

POLOKWANE – Westenburg-inwoners se vreugde oor werk aan die slaggate in hul woonbuurt deur die munisipaliteit was van korte duur.

Die inwoners was verlede week ontstoke omdat die munisipaliteit net die slaggate in sekere strate reggemaak het.

“Ons moes geweet het dit is te goed om waar te wees toe die munisipaliteit so vinnig na die berig in Review die strate begin regmaak het. Net die slaggate in Ben Harrisstraat, en sekere gedeeltes in Buysstraat is reggemaak. Die res van die strate, wat erger slaggate het as dié in Ben Harris- en Buysstraat, is onaangeraak. Dit beteken ons kan maar vergeet dat dit reggemaak gaan word,” het een van die inwoners vies gesê.

Review het ondersoek ingestel en gevind dat daar nog slaggate in John Smith-, Nagel-, Verveen-, Southon-, sekere gedeeltes van Buys- en Whiteheadstrate is.

Die slaggate was van verskillende groottes en van so ‘n aard dat motoriste dit nie kon vermy nie.

“Die munisipaliteit het in die koerant gesê hulle het ‘n kontrakteur aangestel om al die slaggate in Westenburg reg te maak tussen 12 en 23 Januarie. Die sperdatum is verby, maar hier is nog ‘n klomp slaggate. Wie gaan dit regmaak en wanneer gaan dit reggemaak word,” wou ‘n motoris weet.

Teen druktyd kon die munisipaliteit nie kommentaar lewer oor die saak nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button