PLS se Martin Kroh sien uit na nuwe uitdaging
Ná 20 jaar by Pietersburg Laerskool pak Martin Kroh eersdaags ’n nuwe hoofstuk aan as onderhoof by Laerskool Louis Trichardt.
POLOKWANE – Afskeid laat ’n mens dikwels besef hoeveel mense en herinneringe werklik vir jou beteken.
Só vertel Martin Kroh, kort voor sy vertrek van Pietersburg Laerskool (PLS) na Laerskool Louis Trichardt.

Ek neem nie net my besittings saam wanneer ek die skool verlaat nie; ek neem ook die lesse, ervarings, vriendskappe en mooi herinneringe saam. Hoewel hierdie hoofstuk tot ’n einde kom, sal die invloed daarvan altyd deel van my bly.
Oor sy aanstelling in Louis Trichardt
Martin was die afgelope 20 jaar by PLS betrokke en het onlangs ’n pos as onderhoof by Laerskool Louis Trichardt aanvaar.
“Ek beskou die aanstelling as erkenning vir die werk wat ek oor die jare gedoen het, maar ook as ’n groot verantwoordelikheid. ’n Leierskapsposisie gaan immers nie net oor ’n titel nie, maar oor diensbaarheid, besluitneming, die ontwikkeling van ander en die vermoë om saam met mense aan ’n gemeenskaplike visie te werk. Ek is opgewonde oor die geleentheid, maar besef daar sal ook baie wees om te leer.”
Martin sien uit na die nuwe verhoudings wat hy gaan bou, om die skoolkultuur en werkswyse te leer ken en saam met die personeel die skool se doelwitte te bereik.
“As onderhoof sal ek nie net op my eie werk kan fokus nie, maar ook saam met ander oplossings vind, geleenthede skep en ’n positiewe verskil in die skoolgemeenskap maak.”
Hy beskou uitdagings as deel van die groeiproses. Sy doel is nie om ’n leier te wees wat net leiding gee nie, maar ook iemand wat bereid is om te dien, saam te werk en ander te help om hul volle potensiaal te bereik.
Een van sy grootste hoogtepunte oor die afgelope 20 jaar was om te sien hoe leerders ontwikkel, nie net akademies nie, maar ook as mense.
Die grootste hoogtepunt lê vir my daarin dat ek moontlik ’n positiewe verskil in iemand se lewe gemaak het. Die erkenning en prestasies is mooi, maar om te weet dat jy iemand gehelp het om in hom- of haarself te glo, is een van die grootste belonings van die onderwysberoep.
Die invloed wat hy gemaak het
Hy meen ’n onderwyser besef nie altyd dadelik watter invloed sy woorde of optrede op ’n leerder het nie.“Dit kan ’n eenvoudige gesprek, ’n bemoedigende woord of die besluit wees om nie moed op te gee met ’n leerder nie. Jare later besef jy dat daardie klein oomblik dalk vir die persoon baie groter betekenis gehad het as wat jy ooit kon dink.”
Martin se raad aan jong onderwysers is om geduldig met hulleself te wees en te onthou dat niemand van dag een af al die antwoorde het nie.
Onderwys is ’n voortdurende leerproses, en ervaring leer jou dikwels dinge wat geen handboek jou volledig kan leer nie. Bou verhoudings met jou leerders en probeer verstaan wie hulle is, waar hulle vandaan kom en wat hulle nodig het om te groei. Wees ferm wanneer nodig, maar altyd regverdig en konsekwent. Dissipline en omgee sluit mekaar nie uit nie.
Die belangrikste is om die mens agter die leerder raak te sien
“Jy weet nie altyd hoeveel jou teenwoordigheid, woorde of geloof in iemand vir daardie persoon kan beteken nie. Gee jou beste, bly nederig en onthou waarom jy in die eerste plek ’n onderwyser geword het.”
Lees meer oor Martin en sy ervarings by PLS in vandeesweek se Polokwane Review.




