MOKOPANE – BOSVELD het gaan ondersoek instel na die toestand van die begraafplaas nadat ons talle klagtes van onstoke inwoners ontvang het.
Die meeste van die grafte is toegegroei onder gras en dorings en op sommige plekke kan mens skaars die grafstene uitken.
‘n Gesprek het op die sosiale blad Facebook uitgebreek oor die gehawende toestand van die begraafplaas en een van vele opinies het gelees: “Ek het die skok van my lewe gekry toe ek ‘n draai by die begraafplaas gaan maak het. Wanneer ek aan ons begraafplaas gedink het was dit altyd skoon en netjies en nou het dit in ‘n oerwoud ontaard,” sê anoniem.
Meriam Molala, gemeenskapsbestuurder by die Mogalakwena Munisipaliteit, het Maandagoggend aan Bosveld gesê ‘n personeeltekort is te blameer.
“Ek is bewus van die toestand van die begraafplaas en as gevolg van ‘n tekort aan personeel weens die vorige stryd by die munisipaliteit, het van die dienste tot stilstand gekom. Ek moes sorg dat die belangrikste take met die minimum personeel verrig word en het toegesien dat die grafte betyds gegrawe word. Ons het nou byna 100 vrywilligers wat die gemeenskap help skoonmaak. Die vrywilligers het ‘n week terug in Mahwelereng begin, wanneer hulle daar klaar is gaan hulle Mokopane kom regskud en van daar Rebone,” sê Molala.



