MunicipalNews

Water: Afriforum maak stem dik

AfriForum het aan 'n regsverteenwoordiger instruksie gegee om voort te gaan met 'n aansoek van minagting van die hof teen die Vhembe Distrikmunisipaliteit (VDM) nadat die dorp en Tshikota verlede week drie dae sonder water was.

LOUIS TRICHARDT – AfriForum het aan ‘n regsverteenwoordiger instruksie gegee om voort te gaan met ‘n aansoek van minagting van die hof teen die Vhembe Distrikmunisipaliteit (VDM) nadat die dorp en Tshikota verlede week drie dae sonder water was.

Watertoevoer het sedert Saterdag stelselmatig teruggekeer, maar inwoners bevraagteken die kwaliteit daarvan te oordeel aan die kleur en reuk. Die instruksie van AfriForum om voort te gaan met die aansoek vir minagting van die hof teen die VDM volg nadat AfriForum ‘n hofbevel bekom het wat die munisipaliteit dwing om watertoevoer in die dorp te herstel en om dienslewering te verseker soos in die Grondwet voorgeskryf word.

“Ons het die munisipaliteit bygestaan om die probleem op te los en selfs ‘n projekplan vir hulle opgestel wat hulle kon implementeer. Dit sou lopende water verseker het ondanks lekkasies in die pypleiding van die Albasinidam. Die munisipaliteit kon nie die basiese plan volg om aan die hofbevel te voldoen nie en dit is ‘n strafregtelike oortreding,” het Wally Schultz, voorsitter van AfriForum se Louis Trichardt-tak gesê.

AfriForum sal in die aansoek eis dat die munisipaliteit aan al die bepalings soos in die hofbevel uiteengesit is moet voldoen en ook die projekplan wat deur die burgerregte-organisasie opgestel implementeer. “Indien dit nie so geskied nie sal die munisipale amptenare in hegtenis geneem word,” sê Schultz. “Hierdie soort optrede deur munisipaliteite bevestig dat die staat se vermoë om basiese dienste te lewer besig is om te verval en dat die belange van die gemeenskap nie ‘n hoofprioriteit is nie,” het Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, gesê.

Volgens die DA raadslid van die VDM, Vhathu Mulaudzi is ‘n petisie met honderde handtekeninge van inwoners aan die burgemeester van die VDM gegee oor die waterkrisis. Nie net Louis Trichardt en Tshikota is sonder water nie, maar ander dorpies is byna drie jaar waterloos.

“Die VDM het nie daarin geslaag om watertoevoer na die dorpe te bewerkstellig soos daar in die 2014/15 finansiële vergadering gesê is nie. ‘n Bedrag van R605 miljoen is opsygesit vir watertoevoer,” sê Mulaudzi. “Laasjaar het die VDM aangekondig dat hulle 7 000 water meters gaan aansluit. “Al hierdie beloftes is gemaak net voor die verkiesings,” verduidelik Mulaudzi. Volgens Matodzi Ralushai, die VDM spreukbuis is die waterprobleem uitgesorteer en behoort alle inwoners nou water te hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button