Brul is terug in Mokopane se unieke wildteelsentrum
DIE brul in die dorp is behoorlik terug met twee leeus en drie jagluiperds by die Mokopane Biodiversiteits Bewaringsentrum, vroeër bekend as die Wildteëlsentrum.
MOKOPANE – DIE brul in die dorp is behoorlik terug met twee leeus en drie jagluiperds by die Mokopane Biodiversiteits Bewaringsentrum, vroeër bekend as die Wildteëlsentrum.
Die sentrum het in Oktober 1981 vir die eerste keer sy deure vir die publiek oopgemaak en vandag spog die sentrum met ‘n 85% internasionale akkreditasie slaagsyfer van Pan-African Association of Zoos and Aquaria, (PAAZA).
PAAZA het uiters hoë standaarde en dit het nie net betrekking op die sentrum se voorkoms nie, maar alle prosesse en dokumentasie asook die welsyn van die diere.
“Die sentrum is ‘n dinamiese en ontwikkelde struktuur waar gereelde verandering plaasvind. Ons probeer soveel moontlike kennis opdoen om die welsyn van die diere te verbeter,” sê Mark Howitt, bestuurder van die Mokopane Biodiversiteits Bewaringsentrum.
Mark vertel dat hulle reeds in 2010 begin beplan het om die sentrum te vergroot en vandag spog hulle met ‘n nuwe en verbeterde sentrum.
“Die aanhoudingskampe voldoen aan die internasionale standaarde van 500m2 vir twee leeus. Die kamp bestaan nou uit drie eenhede; ‘n publieke vertoondeel, ‘n bestuurskamp en nag kamers,” sê Mark.
Die Biodiversiteits bewaringsentrum is oop sewe dae ‘n week van 08:00 tot 17:00, van Maandae tot Vrydae, en van 08:00 tot 18:00 op Saterdae en Sondae teen die spotgoedkoop prys van R22 vir volwassenes en R14 vir kinders onder die ouderdom van 15 jaar.
Hulle bied ook bewaringsprogramme vir skole aan.Vir verdere inligting kontak vir Mark by (015) 491 4314.





