Local News

‘Ons sonskyn, pragtige, sterk meisie’: Gemeenskap rou oor Gabby Rosser

Familie en vriende in Polokwane bring hulde aan Gabby Rosser (21), wat twee weke ná ’n ernstige botsing aan haar beserings beswyk het, en onthou haar as iemand wat vreugde en liefde na ander gebring het.

POLOKWANE – Vriendelik, vol deernis en bedagsaam is slegs drie van die vele frases waarmee Gabby Rosser (21) se vriende en familie haar onthou.

Gabby het op Vrydag, twee weke nadat sy in ‘n botsing op die hoek van De Wetrylaan en Munnilaan betrokke was, aan haar beserings beswyk. Sy het 85% derdegraadse brandwonde in die botsing opgedoen, en is daarna in die Netcare Pholoso Hospitaal opgeneem.

’n Mens met ’n groot hart

Gabby se suster, Vallerey Rosser, sê Gabby was iemand wat baie graag gesels het.

“Sy was lief vir mense en het dit geniet om in ander mense se geselskap te wees.

“Wanneer sy in ‘n vertrek instap, was almal bewus van haar teenwoordigheid. Sy het so baie liefde gehad om te gee, sy het opreg omgegee vir die mense om haar.”

Jenny Osborn, Gabby se bonusma, sê Gabby se glimlag, sin vir humor en liefde vir mense het haar uniek gemaak.

“Sy wou ander altyd help en het dikwels haar eie gevoelens eenkant gesit sodat ander gelukkig kon wees. Sy was passievol oor die lewe, die natuur, visvang, bos en ook haar gemengde gevegskuns en Jiu-Jitsu. Sy het haar liefde aan haar mede mens betoon deur gereelde drukkies en klein geskenke of briefies te gee.”

Vallerey beskryf Gabby verder as sterk, briljant en vol lewe.

“Gabby, as daar een ding is wat ek wil hê jy moet weet, is dit dat jy so diep geliefd is. Jy is soveel meer as dit wat met jou gebeur het. Jy was ons helder, pragtige, sterk meisie, en ons hou met ons hele hart vas aan ons herinneringe aan jou.”

’n Geveg wat sy met moed gevoer het

Nadat Gabby in die hospitaal opgeneem is, is sy verskeie kere in die teater opgeneem waar haar brandwonde skoongemaak en behandel is. Alhoewel sy aan die begin beterskap begin toon het, het haar liggaam na ‘n paar dae begin ingee. Sy het ‘n sekondêre infeksie opgedoen en moes uiteindelik dialise ook ontvang om haar niere te ondersteun.

Jenny vertel dat Gabby ‘n wonderlike mens was.

“Ek hoop mense vergeet nooit watter wonderlike, liefdevolle mens Gabby was nie. Iemand wat almal anders eerste gestel het, wat altyd geglimlag het. Hulle moenie vergeet hoe haar glimlag ‘n vertrek kon ophelder nie.”

Familie bedank gemeenskap vir ondersteuning

Gabby se familie bedank elke persoon wat hulle deur die afgelope tyd ondersteun het.

“Dankie vir elke gebed, elke boodskap, elke telefoonoproep, elke vriendelike woord en elke bietjie liefde wat julle gedurende Gabby se reis na ons kant toe gestuur het. Dankie dat julle verneem het hoe dit gaan, aan ons gedink het, ons bygestaan het en ons gesin ondersteun het toe ons nie self die krag gehad het om staande te bly nie.

“Daar was oomblikke toe die gebede, aanmoediging en ondersteuning van julle almal die enigste dinge was wat ons aan die gang gehou het. Om te weet dat Gabby deur soveel liefde omring was, selfs van ver af, het vir ons meer beteken as wat julle ooit sal besef.

“Ons harte is totaal gebroke. Ons het gebid, gehoop, geveg en met alles in ons geglo dat sy huis toe sou kom. Ongelukkig het God ’n ander plan gehad, en ons moet troos vind in die wete dat Gabby nou in vrede rus, vry van pyn en lyding.”

Gabby word oorleef deur haar ma, Judith, haar pa, Craig, haar bonusma, Jenny en bonuspa Hugo, haar kêrel Sam Halgryn, haar susters Erin, Vallerey en Jessica, Jessica se dogter, Elaine en haar man, Barry, asook uitgebreide familie en vriende.

Gabby se lewensvieringdiens vind Vrydag om 10:00 vanuit die AGS Taberna Dei Moederkampus plaas. Die familie versoek dat diensgangers kleurvolle, geblomde of wit klere sal dra.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button