Die winter wink: wees veral bedag op veldbrande
MET die winter wat vir ons loer en die droogte en sterk winde wat daarmee gepaard gaan staan boere op die voorrand van die brandseisoen.
MOKOPANE – MET die winter wat vir ons loer en die droogte en sterk winde wat daarmee gepaard gaan staan boere op die voorrand van die brandseisoen.
Bosveld het ‘n bietjie navorsing gaan doen in verband met die versekering van verspreiding van veldbrande en die noodsaaklikheid daarvan.
“‘n Veldbrand is iets wat ‘n produsent binne enkele oomblikke van finansieel sterk tot bankrot kan neem. Die verspreiding van ‘n brand is een van die mees verwaarloosde afdelings van versekering, hoewel dit die grootste risiko is waaraan produsente blootgestel word, naas die winsgewendheid van sy oeste,” sê Hannelie Cronjé van VKB.
Volgens Hannelie moet almal wat grondbesit aangrensend tot ‘n hoë digtheid boerderyaktiwiteite beslis versekering uitneem teen die verspreiding van brand.
Volgens die Nasionale Veld en Bosbou Brandwet 1 van 1998, is dit elke grondeienaar se plig om voorbrande te maak en te onderhou, sowel as om toerusting en personeel op gereedheidsgrondslag te hou om brande te bestry. “Indien ‘n brand op jou eiendom ontstaan en dit versprei na die aangrensende eiendom word daar onmiddellik aanvaar dat jy nalatig is tot wanneer jy die teendeel kan bewys,” sê Hannelie.
Die voordeel om verspreiding van brandversekering uit te neem is, dit betaal vir jou regskoste om te bewys dat jy nie nalatig was nie en indien jy wel nalatig bewys word sal die versekering ook betaal vir die skade veroorsaak.
Die grootste fout wat begaan word rondom die uitneem van verspreiding van brand-versekering is die bedrag waarteen verseker word is te laag. “Onthou dat die versekeraar slegs betaal tot maksimum die bedrag waarvoor jy verseker is.”
Gesels met jou versekeringsadviseur en neem versekering teen die verspreiding van brande uit.
Boere in die omliggende omgewing van die Mogalakwena munisipale distrik kan deel vorm van die Community Fire Protection Association, (CFPA), alle lede het toegang tot die bekwame dienste van die Working on Fire, (WOF), span in Mokopane wat brandstroke opstel en help om die vlamme te blus. Vir meer, kontak Mark Wreyford per e-pos by markwrey@gmail.com.



