Skolesport: gemoedere vat vlam tydens sportdag by laerskool
'n Vriendskaplike wedstryd tussen die o/10-netbalspanne van Suidskool en Laerskool Louis Trichardt moes Dinsdag gestaak word nadat 'n ouer van die besoekende span tot so 'n mate ingemeng het dat daar geen ander keuse was nie.
POLOKWANE – ‘n Vriendskaplike wedstryd tussen die o/10-netbalspanne van Suidskool en Laerskool Louis Trichardt moes Dinsdag gestaak word nadat ‘n ouer van die besoekende span tot so ‘n mate ingemeng het dat daar geen ander keuse was nie.
Die ma, wie se kind in die wedstryd gespeel het, het openlik op die baan gestap, soms die bal afgevat, en behalwe dat sy ‘afgerig’ het, wat teen die reëls is, het sy harde woorde gehad vir die jong spelers van Suidskool.
‘n Provinsiale netbalskeids-regter wat teenwoordig was, het die wedstryd tydelik gestaak nadat die ma aanvanklik geweier het om die baan te verlaat. Die wedstryd is wel later hervat nadat die skeidsregters die situasie ontlont het.
Die voorval is die jongste in wat talle toeskouers jaarliks langs die rugby- of hokkieveld, of netbalbaan aanskou. Dit is volgens ‘n paar ouers met wie Review gesels het die rede waarom hulle hul kinders eerder aan skolesport onttrek.
Gevalle van vuilspel was Dinsdag ook openlik in rugbywedstryde te bespeur, gedrag wat tot ‘n groot mate aangehits word deur belanghebbendes langs die veld, wat ouers insluit.
Voorvalle van ouers en afrigters wat met skeidsregters verskil, spelers wat openlik deur ouers aangeraai word om vuil te speel en inmenging raak jaar na jaar meer algemeen.
Die hoof van Suidskool, Peet Bredenkamp het aan Review gesê vuilspel op die sportveld strook nie met die beleid van die skool nie en is ‘n onding.
Hy keur die gebeure ten sterkste af, het hy by navraag gesê.
Die oorspronklike doel waarom die leerders aan sport deelneem, word vergeet.
“Deesdae gaan dit oor ligas en bekers en superspanne, wat die meeste spelers in die agtergrond laat verdwyn. Dit begin gaan oor die prestige wat skole wil geniet.”
Dit, meen hy, lei tot emosies langs die veld.
Volgens Bredenkamp is die hantering van moeilike ouers ‘n netelige kwessie. Die veld word tydens ‘n wedstryd afgekamp sodat ouers en toeskouers ten minste twee tot drie meter van die speelvlak af weg staan, juis vir hierdie rede.
“Sport gaan gepaard met emosies en daarom is die goue reël om so ver moontlik van die veld af te bly.
“Hoe nader ‘n mens aan die veld is, hoe hoër loop die gemoedere.” Dit is dan wanneer dinge erg begin skeefloop, voeg hy by.
Al die hoofde wat deur Review oor die kwessie van vuilspel, inmenging en intimidasie genader is, was dit eens: die hoort nie in ‘n omgewing van gesonde sportmangees nie.
Op Oosskool se Communicatorblad word die gedragskode vir die Super 12-sportgeleenthede, asook elke sportkode by die skool baie duidelik uitgestip – vir spelers, afrigters, skeidsregter en ook toeskouers.
Hiervolgens onderneem toeskouers om hulself as verteenwoordigers van die skool te ag waar hulle langs die baan is, en moet spelers tot positiewe spel aangemoedig word. Die praktyk van skree op spelers wanneer foute gemaak of wedstryde verloor word, word ten sterkste afgekeur.
Ook Hoërskool Pietersburg het ‘n gedragskode in plek vir spelers. Volgens die hoof, Willie Schoeman, kan geen sport behoorlik beoefen word sonder goeie sportmanskap nie. Ons sportbeleid dui duidelik aan dat spelers hulle van vuilspel moet weerhou, want wanneer so ‘n voorval plaasvind, onthou min mense wie daarby betrokke was, maar almal onthou in watter skool die speler is. Dit doen dus ‘n skool se beeld baie skade,” meen hy.
Hy stem saam dat ouers baie dikwels hierdie gedrag aanmoedig. “Vuilspel word dikwels van die kantlyn af deur ouers aangemoedig. In die emosie van die stryd vergeet ouers dat dit steeds net kinders is wat speel en dat dit net ‘n gewone skoleliga is en nié Springbokrugby nie. Ons poog om ons ouers so ver moontlik van die rugbyveld af te hou om dié tipe inmengery te voorkom,” het Schoeman gesê. “Ons is van mening dat vuilspel baie van ‘n kind se karakter en die omstandighede waarin hy of sy grootgemaak is, openbaar,” het Schoeman afgesluit. By navraag het die hoof van Laerskool Louis Trichardt, Louis Linde die voorval as “onsmaaklik” beskryf en gesê daar is wel van die skool se kant af opgetree.
“Ons keer glad nie die tipe gedrag in skole goed nie. Dit is ook belangrik dat wanneer so ‘n situasie wel opduik, dit reg hanteer word. Ek wil die betrokke skool se onderwysers loof vir die manier waarop die situasie hanteer is,” het Linde gesê.
‘n Afrigter van ‘n plaaslike rugbyspan, Dennis Myburg het gesê dat daar geen twyfel is dat mededinging in skoolgebaseerde sport ‘n goeie ding is nie. Hy het egter bygevoeg dat dit ‘n ongelukkige waarheid is dat baie mense en spelers ‘n ‘wen-ten-alle-koste’-houding het en dit maak skoolsport ongewild.
Skoon spel sal minder beserings tot gevolg hê en die kwaliteit van die beskikbare poel vir nasionale spanne, verhoog, meen hy.



