Danielle bepleit lot van mishandelde diere
Samewerking tussen The Highveld Horse Care Unit en SA Show Jumping het tot 'n bewusmakingsinisiatief gegroei vir die nood van perde en donkies in Suid-Afrika.
POLOKWANE – Samewerking tussen The Highveld Horse Care Unit en SA Show Jumping het tot ‘n bewusmakingsinisiatief gegroei vir die nood van perde en donkies in Suid-Afrika.
Tydens die Suid-Afrikaanse Skouspringkampioenskappe wat in die begin van die jaar gehou is, is daar aan elk van die wenners ‘n speelgoedperd genaamd Harry gegee om as voog voor op te tree vir ‘n bepaalde tydperk. In hierdie tyd moet die ruiter die publiek bewus maak van die organisasies en hul werk asook geld insameling te doen. Danielle Lemmer van Hoërskool Pietersburg is tans besig met haar bewusmakingsprojek nadat sy op 6 April as die Suid- Afrikaanse Junior Outdoor Grand Prix kampioen tydens die Nissan Paasskou aangewys is. Harry, die perdjie, het op Dinsdag 28 April by PHS besoek afgelê waar Danielle van die kans gebruik gemaak het om bewusmaking veral onder mede-leerders te bring. Danielle het veral ook besighede wat hulle bestaan maak en verwante sake uitgenooi om hulle beursies oop te maak vir organisasies soos The Highveld Horse Care Unit.
“Enige donasies, hoe gering ook al, kan die verskil maak vir ‘n donkie of perd in nood. Dit gaan oor die liefde vir diere, veral perde, en hoe meer mense bewus is van hierdie organisasies, hoe minder gaan diere deur onkunde aan die kortste ent trek,” het sy gesê. Inligting oor die werk van The Highveld Horse Care Unit kan verkry word op hulle webtuiste www.horsecare.org.za.
Donasies kan gemaak word aan Hoërskool Pietersburg.



