MOKOPANE – MOKOPANE en Mookgophong se drinkwater is skoon.
AfriForum het vandeesweek sy Limpopo Blou- en Groendruppel verslag bekendgemaak nadat hy in Maart vanjaar verskeie dorpe in Limpopo se water getoets het om die gehalte van die drink- en rioolwater te bepaal.
Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, sê AfriForum wil deurlopend evalueer of Suid-Afrikaners se grondwetlike regte beskerm word deur aan hulle skoon drinkwater te voorsien.
“Ons het agt dorpe in Limpopo se water getoets waarvan almal tydens toetsing skoon van fekale koliform-bakterieë wat in ontlasting voorkom en E. coli getoets het en binne die gestelde standaarde van nitrate geval het.”
Die dorpe waarvan die water getoets is, is Mokopane, Mookgophong, Phalaborwa, Pietersburg, Tzaneen, Bela Bela, Marble Hall en Leeupoort. Die dorpe se rioolwater is ook getoets wat aangedui het dat almal skoon en binne die gestelde mikrobiologiese standaarde val.
Mostert het gesê dat die beduidende verbetering in die bestuur van waterkwaliteit ‘n positiewe uitwerking op die gemeenskappe gehad het. Hy het egter beklemtoon dat diegene wat deur nalatigheid die waterbronne besoedel, streng aangespreek sal word.
“Volgens die departement van water en sanitasie se blou- en groendruppelverslag van 2013, is 1 009 waterstelsels geëvalueer en daar kon nie bepaal word hoeveel aan die bloudruppelstandaarde voldoen het nie.
“Die groendruppelverslag het egter aangedui dat 60 uit 824 rioolwaterstelsels groendruppelstatus verkry het,” het Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, gesê.
“Dit is belangrik dat ons deurlopend ons drink- en rioolwater se kwaliteit toets. Ons moet hierdie kritieke bronne beskerm en sekermaak dat die gebeure in 2014 waar kinders in Bloemhof dood is, nie herhaal word nie,” het Kleynhans bygevoeg.
Andy Goetsche, adjunk-president van die Mokopane Besigheidskamer, sê hy is verlig en dankbaar dat die water getoets is.
Hy hoop dit sal vorentoe weer getoets word.
Korny Dekker, DA raadslid, sê hy is dankbaar en het geweet Mokopane is een van die min dorpe in Limpopo wat aan die vereistes voldoen.
“Ons moet ons water bewaar en nie mors nie. ‘n Mens kan nog sonder elektrisiteit klaar kom, maar nie water nie.”




