Om reg te mik en druk is sy passie
Ockert van der Westhuizen is 'n bekende op die dorp wat nie skroom om sy passie vir fotografie uit te leef nie.
MOKOPANE – NAWEKE sal ‘n mens hom langs die sportvelde en -bane van die verskeie skole op die dorp aantref gereed om al die aksie deur sy kameralens vas te vang.
Ockert van der Westhuizen is ‘n bekende op die dorp wat nie skroom om sy passie vir fotografie uit te leef nie. Hy is al meer as 25 jaar in die bedryf en vertel hoe hy, soos in die meeste beroepe, onder begin het. “Eers was dit ek en my mik en druk kamera. Ons almal begin mos maar onder. Vandag geniet ek my meer gesofistikeerde toerusting, veral wanneer ek sportfoto’s neem.”
Hy geniet dit die meeste om foto’s in die natuur te neem, hoewel sy foto’s van skolegeleenthede gewild is. Ockert sê beligting is baie belangrik. ‘n Mens moet sorg dat jou verstellings aan jou kamera nommerpas is om by die lig aan te pas. “Ek hou nie daarvan om foto’s te edit nie, daarom sorg ek dat my foto’s van die begin reg is”
Dit is nie so maklik as wat mense dink om die vinnige spel op ‘n sportveld af te neem nie. Dit bly egter lekker wanneer hy op die regte oomblik op die regte tyd die knoppie van sy kamera druk en die resultaat boekdele spreek. Hy bly op hoogte oor die nuutste tendense in die bedryf deur artikels oor fotografie te lees.
Ockert kan by 082 633 3541 gekontak word.



