PIENKVOETJIES: Abbygail se glimlag tokkel die hartsnare
Stap jy in hul sitkamer in, sit Abbygail Veldman (drie maande) in 'n pragtige pienk rokkie en glimlag vrolik. Haar pa, Tinus en ma, Alida is by haar en vertel ons meer oor die nuutste Veldman familielid.
POLOKWANE – Stap jy in hul sitkamer in, sit Abbygail Veldman (drie maande) in ‘n pragtige pienk rokkie en glimlag vrolik. Haar pa, Tinus en ma, Alida is by haar en vertel ons meer oor die nuutste Veldman familielid.
“Na haar geboorte was ek erg emosioneel. Toe ek uitvind ek is swanger het ek eers my skoonma en toe my ma van die wonderlike nuus vertel,” vertel Alida. Abbygail het 3,62kg geweeg by geboorte en was 52cm lank.
“Ek was ook nooit regtig bang gedurende die swangerskap nie, net gespanne omdat ek nie geweet het wat op ons wag nie. Ek was 12 ure lank in in die kraamsaal voor ek ‘n epiduraal gekry het. Tydens die swangerskap het ek gesukkel met geswelde voete, my groot lus vir sout en suurlemoene, asook die feit dat ek vleis vreeslik afstootlik gevind het,” vertel Alida.
Vir die Veldman-gesin was daar ook ‘n groot skok tydens die agtste maand van die swangerskap toe hulle kar afgeskryf is in ‘n botsing. “Die lugsak het op Alida se skoot en in haar gesig ontplooi, gelukkig het niemand ernstige beserings opgedoen nie,” vertel Tinus verlig.
“Ons het ‘n paar name gehad waaruit ons moes kies, maar Abbygail was die mooiste.” Hulle vertel verder dat hulle van die begin af ‘n dogtertjie wou hê en dat hulle van plan is om die familie verder aan te vul deur ‘n sussie vir Abbygail by te voeg. “Ek wil haar soos ‘n regte dogtertjie grootmaak,” vertel Alida. Tinus lig vinnig sy opinie dat sy nie pieperig sal wees nie, maar wel haar man sal kan staan. Hulle hoop dat sy eendag in die mediese beroep sal studeer en ‘n dokter word.
“Ons lewens het vreeslik verander, dit is moeilik om by sosiale plekke tot laataand te gaan kuier en slaap het ‘n hele nuwe betekenis. My bestuursvernuf is ook nou heelwat versigtiger,” vertel Tinus.
Hulle het ook ‘n groot hond (boerboel-rifrug kruising) wat homself as Abbygail se persoonlike lyfwag ag en haar graag oppas wanneer sy in die tuin speel, wat ideaal is want Abbygail is vreeslik lief vir die buitelug en Tinus se ouers het die perfekte tuin daarvoor.
For more breaking news, visit our website ReviewOnline or follow us on Twitter or Facebook



