Local NewsNews

Thomson: ‘n grote sterf

Thomson is in Januarie met longkanker gediagnoseer en is Saterdagoggend na 'n kort siekbed by die Theunis Fichardt Hospitium oorlede.

POLOKWANE – Hy was streng, maar het ‘n hart van goud gehad en het altyd mense gehelp waar hy kon. Hy was baie lief vir sy familie en vriende.

Dit is hoe die 60-jarige Gustav Thomson, ‘n welbekende besigheidsman in die stad, se familie hom sal onthou.

Thomson is in Januarie met longkanker gediagnoseer en is Saterdagoggend na ‘n kort siekbed by die Theunis Fichardt Hospitium oorlede.

Die pa van twee seuns was die eienaar van Thomson’s Body 107. Hy het dié saak in 1993 begin en oor die jare het dit uitgebrei tot een van die grootste paneelkloppers in Limpopo.

Thomson was ook die eienaar van Eland Safaris, ‘n jag- en wildplaas.

Volgens sy familie het hy ‘n groot voorliefde vir die natuur gehad en het hy besluit om ‘n familiebeesplaas te omskep tot die baie suksesvolle jag- en wildplaas wat sy seuns, Alex en Johnny, bestuur het.

Volgens Alex en Johnny was die beste oomblikke met hulle pa op dié plaas.

Alex sê sy pa was ‘n hardwerkende mens wat altyd tyd gemaak het vir vriende en familie.

“My pa was nie ‘n maklike mens nie, met hom was dit reg of weg. Maar hy het ‘n oop hart gehad en was altyd gewillig om ‘n mens in nood te help. My pa het my en my broer touwys gemaak. Hy het altyd gesê, ‘die dag as ek nie meer daar is nie, moet julle dit self kan doen’. Ek onthou hy het ook gesê dit belangrik is om eers self ‘n ding te probeer doen, voordat jy iemand anders vra om te help,” sê Alex.

Hy voeg by dat hy die oggendkuiertjies op die plaas met sy pa die meeste gaan mis.

Johnny sê sy pa was ‘n man wat geglo het in drome en dat ‘n mens moet hard werk om jou drome te bereik.

“Hy het altyd vir my gesê om nooit op te gee nie. Dat ek moet aanhou en hard werk om dit te bereik. Ek gaan my pa baie mis, veral ons geselsies rondom die kampvuur of terwyl ons braai,” sê Johnny.

Thomson se vrou, Helaine, sê sy het nie net haar man verloor nie, maar ook haar beste vriend.

“Hy was my alles gewees. Ek mis hom so baie. Dit is alleen sonder hom. Hy was altyd daar vir my, het my ondersteun, geluister en my raad gegee. Die 38 jaar wat ek saam met hom was, was die beste jare van my lewe. Hy was ‘n goeie man, baie hardwerkend en ‘n liefdevolle pa en oupa,” sê Helaine.

Sy voeg by dat haar man nooit iets “halfpad” gedoen het nie.

“Hy was ‘n man wat geglo het as hy iets begin moet hy voluit hou tot die einde. Hy was ‘n aanhouer en dit het hom suksesvol gemaak in die lewe,” sê Helaine.

Thomson se skoonsuster, Rina Muller, het 22 jaar saam met hom gewerk by Thomson’s Body 107.

“Ek het saam met hom die besigheid begin en ek het so baie van hom geleer oor die jare. Hy was baie streng, maar het die kleinste hartjie gehad, met ‘n helpende hand vir sy werkers. Hy was nie ‘n man wat in sy kantoor gesit het en instruksies uitgedeel nie. Nee, hy was gedurig op die vloer, om seker te maak die werk word gedoen en dit word rég gedoen,” onthou Rina.

Thomson se roudiens sal by N.G. Bendorgemeente op die hoek van Place Place- en Van Niekerkstraat vanoggend (Donderdag) om 11:00 gehou word.

Hy laat sy vrou Helaine, twee seuns, Johnny en Alex, twee skoondogters, Tamryn en Janeske en vier kleinkinders, Alex, Lexi, Mike en AJ agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button