KLEIN SAKE: Verkoop hout as ekstra inkomste
Dawid de Beer het dié behoefte in Polokwane raakgesien en besluit om die mark te betree.
POLOKWANE – Suid-Afrikaners is bekend vir hulle liefde vir braaivleis en om lekker te braai, het mens goeie hout nodig.
Dawid de Beer het dié behoefte in Polokwane raakgesien en besluit om die mark te betree.
“Ek kry die hout van ‘n vriend van my se plaas af. Dit is gemengde Bosveldhout en brand baie maklik. Daar is Mopani ook in,” vertel hy waar ons in die eetkamer kuier. Buite in sy motorhuis lê sakkies hout opgestapel, gereed om verkoop te word. Volgens Dawid is die hout lekker vir kuier aangesien dit vinnig kole maak vir braai en dan kan mens weer hout op sit om vlamme te kry.
Die hout word verpak en dan teen R15 ‘n sakkie verkoop. David vertel hy maak maar R3 of R4 op ‘n sakkie hout. Die mense kom laai dit ook self op by sy huis in Eduanpark.
Dawid het ses jaar gelede afgetree en agtergekom hy en sy vrou kan nie op haar karige inkomste alleen leef nie. Voor sy aftrede het hy op die paaie gewerk en hulle reggemaak. Sy vrou, Rita, is ‘n onderwyseres.
“Ek het ook die toerusting gekoop om riole oop te maak. Mense kan my kontak dan maak ek hulle riole oop. Ek het ‘n jong man wat saam met my werk om dit te doen.”
Om Dawid te kontak, skakel 072 638 4116.
Tye is finansieel swaar deesdae, met talle inwoners wat dit moeilik vind om werk in die formele sektor te kry. Baie maak ‘n plan om ‘n ekstra inkomste te genereer deur ‘n bepaalde diens aan te bied, of produk te lewer, in die informele sektor (sommer van die huis af). Review ondersteun hierdie pogings van mense wat hand in eie boesem steek en ons plaas graag hulle stories gratis. As jy so ‘n entrepreneur is, of van een weet, stuur ‘n e-pos aan hilda@nmgroup.co.za met ‘n kort beskrywing en kontakbesonderhede. Ons hoor graag van jou.




