BlogsBosveld NewsNewsOpinion

BOSVELDPRAATJIES: Oud en dom spel ouderdom, vrou nommer vyf vir JZ?

Wanneer 'n mens my ouderdom bereik, mag jy maar dinge doen wat totaal teen jou aard is.

Wanneer ‘n mens my ouderdom bereik, mag jy maar dinge doen wat totaal teen jou aard is. Dis waarom ouma’s uit vliegtuie spring om hul tagtigste verjaarsdag te vier, of ou omies van 70 hul metgesel van die laaste 50 jaar net so los en met ‘n wulpse blaartjie wat sy kleinkind kon gewees het, wegloop. Ek is darem nog nie naby daar nie, maar heeltemal oud genoeg om self so nou en dan iets heeltemal onverantwoordeliks aan te vang.

Ek sukkel egter nog om agter te kom hoe Oom JZ se kop werk. Soms doen hy dinge wat na totale malligheid klink. Gerugte wil dit nou hê dat ons agbare 72-jarige president sy oog op vroutjie nommer vyf het en dat sy iewers in sy kabinet rondswerf. Dit laat my mos nou dink – watter goeie manier om vervolging tot in lengte van dae te bly vermy. Trou met ‘n minister en stoot haar dan na vore as die volgende president. Oom Robert the Mug van oorkant die Limpopo het hoeka al ‘n paar jaar ervaring hoe om so-iets te vermag.

En as dit nie wil werk nie, ruik hierdie Oompie vanuit die Bosveld mos nou ‘n rot oor hoekom SARS skielik besluit het om onse Julius nie meer weens agterstallige belasting te laat sekwestreer nie. As jy gesekwestreer is, mag jy nie in die parlement sit nie. Met al die bloedneuse wat die ANC deesdae kry, is dit nie vergesogd om te dink dat hulle binne afsienbare toekoms nie meer ‘n meerderheid aan slaafse kiesers gaan hê nie. Wat is dan beter as om die voormalige infant terrible weer nader te hark om te probeer help dat jy steeds aan bewind bly, al is dit dan net om ‘n draai agter tralies te voorkom? Het iemand vanuit hogere gestoeltes miskien iets in SARS se oor gefluister? Iets soos “Los jongeling Julius se belastingsake eers bietjie uit. Miskien het ons hom en sy hele kleuterskool vorentoe nodig vir ‘n sekere individu om tyd met vyf skoonma’s te kan bly verwyl.”

Dit egter daar gelaat. In ‘n poging om die vervoerrealiteite te verstaan waarmee ‘n groot deel van ons bevolking daagliks te doene kry, bevind ek myself toe mos met my eie onverantwoordelikheid Maandag in ‘n taxi op pad Pretoria toe. Ek ervaar toe eerstehands hoe dit voel om chicken te speel met ander taxis en vragmotors, maar veral met enige voertuig wat van vooraf aankom. Ek verstaan toe ook sommer hoekom taxibestuurders so dikwels op sperstrepe verbysteek. Hulle sit bietjie hoër as motorbestuurders en kan dus verder sien – behalwe as hulle ‘n bult aan die verkeerde kant van die pad bestorm.

Teen ‘n dawerende 120 km per uur stoom ons Naboomspruit se hoofstraat binne en toe ons anderkant uitkom, is die spoed darem af na ‘n skaflike 90, en dit half agt die oggend. Net buite die dorp staan ‘n verkeersman en trek ons af. Baie duidelik is dit nog te vroeg vir hom om iewers onder ‘n boom intiem te gaan verkeer met ‘n gebraaide hoenderporsie of twee. Maar wat, ‘n koor van stemme vanuit die taxi praat met hom en hy wuif ons verder.

Bult af anderkant Naboomspruit voel dit of die taxi wil opstyg. Bakpanele ratel, die kantspieeltjies vibreer en my tande klap hande in simpatie met gedane skokbrekers. My oog vang die spoednaald. Dit bewe hier by 150 rond, ongeag die groot rooi 100 spoedbeperkingkol agterop die kattebak en ek wonder of Beter Helfte gaan onthou waar ons testament gebêre word.

‘n Skrale 50 minute na vertrek uit Mokopane is ons reeds deur Kranskop se tolhek 93 km verder– en dit met die veronderstelde ou pad se 100 km per uur spoedbeperking en al. Na Kranskop raak dit net al erger. Kom enige voertuig verby wat net naastenby naby aan 160 ry, sit ons so ‘n drie duim van sy agterbuffer af, blykbaar sodat spoedkameras nie ons nommerplaat sal kan lees nie. Eind goed, alles goed en behalwe vir rou senuwees en ‘n paar tande sonder emalje beland ek ongedeerd in Centurion.

Half vyf die middag, presies in die middel van spitsverkeer, vertrek ons weer uit Eldoraigne terug Potties toe, ry via die Fonteine en Brooklyn sirkels en Duncan straat tot in Pretorius en van daar snelweg tot by Naboomspruit se afdraai. Kyk, daardie taxibestuurder ken van stadsverkeer. Ten spyte van ‘n goeie agt minute se oponthoud by Brooklyn sirkel weens ‘n ligte botsing, kruis ons Zambesi rylaan presies 33 minute na vertrek. Terloops, wat ‘n plesier gaan dit nie wees om die ou bekende straatname in Pretoria weer te kan lees na hierdie week se hofuitspraak daaroor nie – nog ‘n bloedneus vir die ANC.

Die terugkom was bietjie stadiger en ons het na donker selfs van tyd tot tyd 100 gery, al was dit net omdat die taxi se ligte net tot so halfpad by die tweede streep op die pad kon verlig.

Dit laat my mos nou dink. Die siniese besluit van die ANC om die aan-af-aan en nou weer gewese burgemeester Tlhalefi Mashamaite van Mogalakwena te herontplooi tot raadslid sou miskien vir almal beter gewees het indien dit eerder terug na taxibestuurder was. Miskien sal hy ‘n taxi beter kan bestuur as wat die geval met ons munisipaliteit was. Minstens het hy nie 27 lyfwagte daarvoor nodig nie. Ek het egter nie veel hoop nie. Wat sê die ou spreekwoord van ‘n jakkals wat van hare verander maar nie van snare nie?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button