Land behoorlik negatief oor nuwe visumregulasies
DIE nuwe visumregulasies wat amptelik op 1 Junie inwerking getree het, het behoorlik die land aan die gons.
MOKOPANE – DIE nuwe visumregulasies wat amptelik op 1 Junie inwerking getree het, het behoorlik die land aan die gons.
Sue-Ann de Wet, koördineerder van AfriForum se wêreldwydveldtog, sê die nuwe regulasies wat vereis van alle minderjariges wat van en na Suid-Afrika reis om in besit van hul eie paspoorte en volledige onverkorte geboortesertifikate te wees. Suid-Afrikaners onder 18 jaar moet ‘n volledige geboortesertifikaat asook geskrewe toestemming van albei ouers of voogde hê wat die kind se reisplanne goedkeur.
Bosveld het met Lunessa Joubert, eienaar van Pro Travel Agency gesels oor hoe dit haar besigheid raak en sy sê, “Die nuwe visumregulasies raak ons as plaaslike reisagente ongelooflik baie. Ek as agent kan glad nie enige vakansies of vlugte na die buiteland bespreek as my kliënte nie reeds in die besit is van ‘n onverkorte sertifikaat nie, wat beteken ons agente verloor onsettend baie besigheid. Dit is absurd dat so ‘n besluit geneem is sonder om die voor- en nadele teen mekaar op te weeg. Ja, op die langduur verstaan ek die punt, maar dan moet daar ook in ag neem word dat ons land se binnelandse sake kantore, nog nooit bekend was vir hulle flinke diens nie, en dat alles altyd langer vat as die oorspronklike tydgleuf deur hulle deurgegee.” Joubert het reeds met die eerste sprake van die nuwe regulasies haar kliënte ingelig om so gou moontlik aan die vereistes te voldoen.Volgens haar het van haar kliënte tot 10 maande vir hulle kinders se sertifikate gewag en nie slegs agt weke soos beloof.
“Behalwe vir die besigheid wat ons verloor, verloor ons land toerisme, want niemand wat hierheen kom tans, het die sertifikate nie, en hulle gaan eerder na ander Afrika lande, waar dit nie nodig is nie, voor hulle na SA reis. Die gevolg die land se ekonomie word hierdeur geraak en ons baklei dus nie net teen ‘n swak rand nie, maar ook teen dit!” Joubert sê ook dat sy glo ‘n paspoort alleenlik noodsaaklik is en hul kan selfs aandring om in die kind se paspoort aan te dui wie die ouers is. “Ons hande is afgekap en agv van ‘n nalatige besluit word ons ekonomie verwoes.”
In ‘n mediaverklaring deur die Demokratiese Alliansie, (DA), sê James Vos, shadow minister van toerisme, “Die nuwe visumregulasies sal toerisme, ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika nadeling beïnvloed en in ons land het ons al drie die faktore uiters nodig. Die DA sal nie toekyk hoe ondeurdagte regulasies ons land se ekonomie en werkskepping dreig nie.”
AfriForum verklaar in ‘n mediaverklaring dat hulle ‘n veldtog, genaamd ‘Hoe raak nuwe visumregulasies jou?’ van stapel gestuur het.
AfriForum wil ‘n opname maak van die omvang van die probleme wat ondervind word met die nuwe regulasies. In dié stadium is dit slegs ‘n opname en kan AfriForum nie enige klaer van bystand verleen nie. AfriForum sal wel druk op die departement van binnelandse sake toepas om die regulasies te hersien. “Ons spreek sedert die visumregulasies die eerste keer bekendgemaak is, ons kommer oor die uitwerking daarvan uit. Ons het begrip vir die behoefte om die groeiende voorkoms van mensehandel hok te slaan, maar is van mening dat die regulasies maklik deur misdadigers omseil sal word, terwyl dit onmeetbare nadelige gevolge vir die toerismebedryf inhou, insluitend ‘n verlies aan werksgeleenthede,” het De Wet gesê. “Die oplossing vir kwessies soos onwettige immigrasie en mensehandel lê nie in die afdwing van meer regulasies nie, maar eerder om toe te sien dat die land se grense na behore beheer word en bestaande wetgewing doeltreffend toegepas word.”
Lede van die publiek wat deur die nuwe regulasies verontrief is of groot onkostes moes aangaan, kan ‘n e-pos stuur aan sue-ann@afriforum.co.za.




