Spog toekenning vir Potties prokureur vir sy regskennis
STEPHAN van der Hoven van Van der Hoven Prokureurs in Mokopane is verlede Vrydag in Midrand tydens die Debt Review Awards Gala met 'n gesogte nasionale toekenning vereer.
MOKOPANE – STEPHAN van der Hoven van Van der Hoven Prokureurs in Mokopane is verlede Vrydag in Midrand tydens die Debt Review Awards Gala met ‘n gesogte nasionale toekenning vereer.
Hy ontvang die toekenning, significant contribution to the debt review process, in recognition of excellence in the field of debt review, vir die bydrae wat hy gemaak het deur om onduidelikheid in die reg op te klaar. Hy het die hoë hof genader vir ‘n uitklarende bevel wat op 26 Mei toegestaan is. Hierdie bevel is van toepassing in landdroshowe landswyd en het die hofproses om ‘n herstruktureringsbevel te bekom, wesenlik vergemaklik. Hy spog met ‘n trofee ‘n kontantprys en ‘n sertifikaat vir sy puik bydra.
Die geleentheid is bygewoon deur rolspelers in die industrie van regoor die land. Skuldberaders, distrubisie-agentskappe, krediteure, die nasionele kredietreguleerder, die DTI en die handelsbanke is goed verteenwoordig. “Die geleentheid was formeel en luissterryk,” sê Van der Hoven.
“Ek is baie trots op die toekenning en ook baie dankbaar vir my vrou se ondersteuning, asook DebtSafe en DebtRescue, my mees vername twee kliënte, waarsonder dit nie moontlik sou wees nie.”
Hy vertel dat hy in gr. 11 besluit het om regte te studeer. “My pa is ‘n prokureur en ek wou altyd graag mense help.” Hy het na skool LLB by die Universiteit van Pretoria gaan studeer waar hy sy vrou Fransie, wat ook ‘n prokureur by die firma is, ontmoet het. Hulle het in 2002, kort nadat hul, hul grade in LLB ontvang het Gauteng verruil vir Mokopane.
“Ons albei het ons klerkskap voltooi by Schalk Pienaar Prokureurs en is toegelaat as prokureurs in 2005 en vandaar het Van der Hoven Prokureurs se deure geopen op 1 Maar 2006, 1 Maart is ook ons huweliksherdenking,” sê Van der Hoven trots.
Hy vertel aan Bosveld waarom hul firma se fokus gelei het tot skulberading en wat die toekoms vir die firma inhou: “Een van die groot oorwegings wat gelei het daartoe dat ons die firma se fokus na skuldberading verskuif het, is die feit dat ‘n mens wat die ekonomie betref, eerder deel van die oplossing as deel van die probleem behoort te wees. Die proses verander mense se lewens ten goede. Ons is reeds die nasionale markleiers in ons veld, en het al meer as 12000 mense gehelp om herstruktureringsbevele te bekom, maar daar is nog etlike miljoene mense in ons land wie nie kan bekostig om hulle aan hulle basiese behoeftes te voldoen nie, weens oorbelasting met skuld. Ek sal graag wil sien dat ons firma n beduidende rol speel in die toekoms, om n groot deel van hierdie probleem op los.”




