Sakebrein agter MyCityInfo verruil Polokwane vir Pretoria
Na 15 jaar groet Nico Prinsloo Polokwane en verhuis na Pretoria.
POLOKWANE – Na 15 jaar groet Nico Prinsloo Polokwane en verhuis na Pretoria.
Prinsloo was vir 12 jaar in die mediabedryf voor hy uitgetree en die hoefuitvoerendebeampte en stigter van www.MyCityInfo.co.za geword het, ‘n webblad wat besighede se inligting gratis lys en adverteer.
“My familie is in Pretoria en daarom verhuis ek en my vrou daarheen.
“Ek is gebore, en het grootgeword in Bronkhorstspruit, maar vanweë ‘n werksgeleentheid het ek in 1996 na Limpopo gekom,” verduidelik Prinsloo.
Prinsloo het sy koerant-loopbaan by Letaba Herald in Tzaneen as redakteur begin.
Hier het hy vir vier jaar gewerk, en in 2000 het hy by Northern Review, nou bekend as Polokwane Review, as sportredakteur begin werk. Prinsloo was vir twee jaar sportredakteur voor hy tot groepredakteur bevorder is.
Na vyf jaar in die tuig bedank hy uit die media om sy eie saak op die been te bring.
“Die lekkerste deel van koerantman wees, is dat jy altyd die nuus eerste weet. Nuus wat mense se lewens gaan verander wat hulle eers die volgende dag hoor of lees, weet jy onmiddellik. Maar die ergste tyd is wanneer jy eerste weet iemand se kind is dood, voor hulle dit weet.
“Dit was altyd vir my interessant om te sien hoe brandweermanne en paramedici grappe maak op ‘n ernstige ongelukstoneel waar iemand dood is om weg te breek van die erns van die saak, maar wanneer ‘n swanger vrou of kind dood is op ‘n toneel, was hulle altyd ernstig,” vertel Prinsloo.
Na die media verlang hy nie regtig nie, meen hy.
“Ek verlang nie na ‘n ‘dying industry’ nie. Maar ek verlang na die mense in die koerant bedryf. Ek mis dit om met jong, vurige joernaliste te werk wat altyd gereed is om te leer en meer te weet en om ‘n verskil in die gemeenskap te maak. Ek verlang ook daarna om by te wees in die skryf van die geskiedenis van die gemeenskap,” sê Prinsloo.
Volgens hom gaan daar binnekort nie meer plek in die land wees vir tradisionele joernaliste nie.
“Nuus is oral op die internet beskikbaar en dit sluit skinderstories in.
“‘n Joernalis se werk gaan word om massa-inligting, wat die gewone mens oorweldig omdat hy of sy dit nie verstaan nie, op te som in ‘n taal wat hulle verstaan. Op so manier sal die gemeenskap sin maak van hul omgewing,” verduidelik Prinsloo.
Die pa van twee en oupa van ‘n sesjarige meisie sê hy het goeie vriende gemaak in Polokwane en gaan hulle baie mis, maar hy sien uit om nader aan sy familie te wees.
“Ek gaan twee huise van my kleinkind af woon. Ek geniet dit om oupa te wees en om saam met haar tyd te spandeer. Om deel te wees van haar grootword en haar te leer van die lewe is die beste geskenk wat die lewe my kan bied,” sê hy.




