Meer as net krieketafrigter
Krieketafrigter Dewald Weterman is welbekend in die stad. Hy is nie net 'n uitstekende krieketspeler en -afrigter nie, maar ook die trotse pa van drie pragtige kinders.
POLOKWANE – Krieketaf-rigter Dewald Weterman is welbekend in die stad.
Hy is nie net ‘n uitstekende krieketspeler en -afrigter nie, maar ook die trotse pa van drie pragtige kinders. Dewald se seun Philip (9) en twee dogters, Ineke (7) en Kayleigh (2) is die middelpunt van sy lewe.
Review het anderkant Vadersdag met Dewald gaan gesels oor pa-wees en sy loopbaan as afrigter.
“My seun het sonder enige druk ‘n groot liefde vir die sport ontwikkel, hy lééf vir krieket. Hy is altyd saam met my tussen die spelers wat ek afrig en as ons by die huis kom wil hy nogsteeds krieket speel,” sê Dewald laggend.
Dewald rig wel nie sy eie seun af nie, maar laat dit “in die bekwame hande” van sy assistent-afrigter, Quinten Havenga.
“Ek glo nie dat jy jou eie seun moet afrig nie, die kans is goed dat die ander leerders hom sal slegsê aangesien sy pa die afrigter is. Ek sal hom steeds help as hy dit nodig het, maar ek vertrou Quinten volkome met sy opleiding, hy is ‘n baie goeie afrigter,” vertel Dewald.
Een van die grootste uitdagings wat hy as ouer ondervind is tegnologie, “die kinders vergeet hoe dit is om buite te speel en die lewe te geniet”.
“Ek en my kinders bring soveel tyd as moontlik in die buitelug deur. Ons geniet dinge soos visvang, jag, kampeer, enigiets wat nie te veel met tegnologie te doen het nie,” sê hy.
Dewald sê ‘n pa speel ‘n groot rol in kinders se lewens, en dit is belangrik om jou kind gelukkig te hou.
“Deur elke dag saam met seuns te werk kan ‘n mens vinnig sien watter seuns nie ‘n pa in hul lewens het nie, só kom ‘n mens agter hóé belangrik ‘n pa regtig is,” sê Dewald.
Hy sê ook alhoewel die pa ‘n groot rol speel, is die ma se rol eweneens belangrik; ‘n man is nie veel sonder ‘n sterk vrou nie.
“Ek en my vrou, Irmgardt is al 13 jaar getroud en ek wil vir haar ‘baie dankie’ sê dat sy al die jare by my gestaan en my ondersteun het,” sê hy.
Hul kinders se toekoms is hul keuse, meen Dewald: “Watter sportsoort hulle beoefen sal altyd hulle keuse, nie ons s’n nie, wees.”
Gerhard (14) gereed vir groot dinge




