Om mooi te kan hoor is sy grootste wens
Neels Fourie wil graag kogleêre inplantings kry sodat hy kan gaan werk en onafhanklik wees, maar hy kort nog sowat R300 000 vir die inplanting.
POLOKWANE – Verbeel jou jy kan niks, absoluut niks, hoor nie. Jy sien dinge gebeur, mense se lippe beweeg, maar vir jou is dit stil. Jy hoor nooit die honde blaf of die voëltjies sing nie. Jy weet nie hoe jou eie ma se stem klink nie.
Dit is Neels Fourie se lewe die afgelope 25 jaar. Neels se ma, Petro Henning, vertel dat Neels as normale seuntjie gebore is, maar op twee dae baba-geelsug (kernikterus) opgedoen het.
“Sy geelsug telling was meer as 500. Dit het beteken hy kan blind, doof of serebraal gestremd wees. Hy was doof, ons het baie gesukkel met sy gesondheid totdat hy sewe was. Hy was meer in die hospitaal as by die huis,” vertel sy.
Sy vertel Neels het eers op die ouderdom van vyf leer loop en as die wind net effens waai, dan het hy oorinfeksie of selfs longinfeksie gekry.
Neels het skool gegaan by die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria, maar is op gr. 10 reeds uit die skool uit.
“Hy het gehoorstukke, maar hy vergeet hy het dit in, dan loop hy in die stort in met dit. Dit kos elke keer ‘n klomp geld. Op 22 het hy begin praat van ‘n kogleêre inplanting want hy wil graag uitgaan en gaan werk.”
Petro vertel sy het ‘n mediese fonds, maar dat dit nie die inplanting dek nie. Die medies dek slegs die teaterkoste, maar Neels kort nog sowat R300 000 vir die inplanting.
Neels het keuring by die gehoorinstituut gekry en die Foundation for Children with Hearing Loss in Suid-Afrika het hom twee keer getoets om uit tevind of hy kwalifiseer. Petro sê Neels se linkeroor is te sleg, maar sy regteroor kwalifiseer beslis.
“Die geld word in ‘n rekening by die Foundation for Children with Hearing Loss inbetaal en dit wat na die inplanting oorbly, word dan vir ander kinders wat dit nodig het gebruik.”
Petro is ‘n area-bestuurder en tans ry Neels oral saam met haar rond, maar hy word vinnig verveeld. Hulle kommunikeer met vingertaal (wat Petro gebruik), gebaretaal (wat Neels gebruik) en liplees. Hy is lief daarvoor om rugby te speel en te kyk.
‘n Familievriendin, Colette Drotskie vertel dat Neels ‘n liewe mens is. “Hy is vol lewe en baie liefdevol. ‘n Regte mense-mens wat net aanvaarding soek. Hy lag oor alles en is baie eerlik. Hy is vreeslik goed met kinders en ek sal enige tyd my twee seuns by hom los,” sê Colette.
Petro vertel dat Neels ook na sy sussies se kinders kyk. “Die feit dat hy doof is weerhou ons nie daarvan om normale lewens te lei nie.”
Indien lesers ‘n bydrae wil maak, kan hulle van die volgende rekening gebruik maak:
Rekening Naam: Foundation for Children with Hearing Loss in SA
Bank: Standard Bank
Tak: Gezina
Takkode: 01484500
Rekening nommer: 011794798
Verwysing: AB/FourieCJ
Faks bewys saam met jou kontakbesonderhede aan The Financial Manager, Attention: Rinie Lotter 086 643 6595.




