Editor's choiceLocal NewsNews

Leerder (17) sterf tragies

Die tragiese dood van John Kuhne (17) Dinsdag het die plaaslike gemeenskap geskok gelaat.

LOUIS TRICHARDT – Die tragiese dood van John Kuhne (17) Dinsdag het die plaaslike gemeenskap geskok gelaat.

Kuhne was ‘n gr. 11-leerder van die Hoërskool Louis Trichardt. Hy was laat Maandagmiddag op ‘n plaas sowat 12 km op die Levubu-pad buite Louis Trichardt saam met vriende.

“Hy en ‘n vriend het op ‘n kwadfiets voor twee ander vriende wat in ‘n bakkie was, gery. Blykbaar het hulle ‘n hobbel getref en Kuhne het afgeval. Die bakkie het toe na bewering oor hom gery,” sê kol. Ronel Otto, provinsiale woordvoerder van die polisie in Limpopo gesê.

Kuhne is na die Zoutpansberg Privaat Hospitaal gehaas waar hy Dinsdagoggend aan sy wonde oorlede is. Volgens Otto is ‘n saak van strafbare manslag geopen.

Willem Martin, ‘n familievriend van die Kuhne-gesin, het met Review gesels.

“John was ordentlik en het altyd goeie maniere gehad. Dit is so ‘n groot jammerte dat hy oorlede is, my hart is regtig seer,” sê Martin.

Volgens ‘n bron wat anoniem wil bly, was Kuhne ‘n wonderbaarlike mens wat baie vinnig in mense se harte kon kruip. “Dit wat met hom gebeur het was tragies, maar dit was ‘n ongeluk. Liewe Jesus sal mooi na John kyk en alhoewel sy plekkie op aarde leeg is, sal sy plekkie in ons harte altyd daar bly.”

Boodskappe het Dinsdag-oggend op sy Facebookblad ingestroom waar dit duidelik was dat Kuhne nie net ‘n leemte by die skool laat nie, maar in die gemeenskap ook.

Hier is ‘n paar van die boodskappe soos hulle op die blad verskyn het.

“Woorde sal nie kan beskryf watter hartseer ons almal vandag voel nie, maar elke traan wat val vertel ‘n duisend stories. Vandag wil ek vir jou dankie sê vir die tydjie wat jy saam ons gedeel het, en die memories wat ons gemaak het wat nie een van ons ooit sal vergeet nie. Jy beteken soveel vir ons en jy sal vir altyd so baie beteken. Ek het nooit gedink ek gaan so vroeg al vir een van my beste vriende moet totsiens sê nie, ek het altyd verwag jy gaan die oudste van ons almal word. John, hoe moet mens totsiens sê vir so ‘n wonderlike mens en awesome vriend. Mens kan net nie. Die lewe is onregverdig en onvoorspelbaar. Ai, John jy het jou plekkie in ons almal se harte al van die begin van tyd af so diep gegrawe dat niemand jou ooit uit ons harte uit kan haal nie. Ons het jou life. Ek gaan nie totsiens sê nie ek gaan net sê : “It’s been a long day without you my friend, and i’ll tell you all about it when i see you again!” – Stephanie Scheepers (sic).

“My hart is in stukke vanoggend toe ek wakker word en moet hoor wat gebeur het, maar so moet ons Goodbye sê aan ‘n goeie vriend, ‘n boetie, ‘n seun, ‘n hero vir baie, hoekom nou? Hoekom so vroeg? Die lewe is vol vrae met geen antwoorde, maar al wat ek wil sê is: Dankie dat ek jou vriend kon wees, dankie dat jy altyd n manier gehad het om mense te maak smile. Ek gaan jou baie mis my maat en sal jou eendag weer sien.” – Veruscka van der Linde (sic).

“John vriend kan dit nie glo nie my maat. Jy gaan gemis word dankie vir al die kuiers dit was altyd leka om saam jou te kuier. Jy is nou in ‘n beter plek. Sien jou weer rus sag. Aan die res van die vriende en familie baie sterkte julle word opgedra in my gebede.” – Jacques Jordaan (sic).

John laat sy ma Karen, pa Michael en suster Suné agter.

‘n Roudiens sal Vrydag, 3 Julie om 14:00 vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg gehou word.

Leerders wat die diens gaan bywoon word versoek om hulle skooldrag vir die geleentheid aan te trek.

johan_574685018

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button