Bosveld NewsNews

BOSVELDPRAATJIES: Kom ons gesels oor die ou lewe en al sy struikelblokke

BESAANS-DU Plessis. Wie kan die naam nog onthou of dit plaas? Vanaf 1946 het hierdie maatskappy gietysterprodukte in Pretoria Wes gemaak en bestaan vandag voort as Saint-Gobain Pipelines South Africa.

BESAANS-DU Plessis. Wie kan die naam nog onthou of dit plaas? Vanaf 1946 het hierdie maatskappy gietysterprodukte in Pretoria Wes gemaak en bestaan vandag voort as Saint-Gobain Pipelines South Africa.

Waar jy ookal in Suid-Afrika gekom het, het die naam lewensgroot op feitlik elke mangatdeksel in ‘n dorp gepryk. Dit was nou totdat gewetenlose skrootwerf eienaars dit by ysterdiewe begin opkoop het. Vandag is so ‘n deksel amper al ‘n stukkie Africana. As u dus iewers ‘n dikkerige ronde of reghoekige braaiplaat het wat besonder baie na ‘n mangatdeksel lyk en waarop Besaans-du Plessis pryk, dan weet u ook sommer nou waar dit vandaan kom.

Mokopane se riolering het ook onder diewe deurgeloop. Stap ek anderdag vanaf Spar se parkeerterrein tot by KFC se hoek, sowat 1.5 straatblokke ver, en tel vier gate in die sypaadjie waarvan die ysterdeksels net weg is. Hoeveel gate daar in die res van die dorp se sypaadjies is, sal ek nou nie weet nie. Gelukkig het inwoners nie werklik ‘n begeerte om na donker te gaan wandel nie, anders kon die munisipaliteit heelwat eise vir gebreekte bene en ander beserings verwag het.

Soms kan ‘n munisipaliteit net eenvoudig nie voorbly nie. Waar daar ookal ysterdeksels gesteel word, probeer hulle dit met sement-blokke vervang. So vinnig soos hulle dit egter doen, trap vragmotors wat halfpad op die sypaadjies parkeer, dit weer stukkend. In plaas daarvan dat verkeersbeamptes met drie motors op ‘n keer langs die hoofstraat staan en ginnegaap soos op 7 Julie skuins oorkant die Spur, kan hulle gerus bietjie vragmotorparkering nagaan en daarvoor begin kaartjies uitskryf, en ook vir ‘n wipbak van die munisipaliteit wat skuldig is daaraan.

Dit sal die munisipaliteit ook loon om die sementblokke self na te gaan. Op die hoeke by Smokers Corner en KFC, ‘n mens kan maar sê die middelpunt van die dorp, is dit ruim 5 cm hoër as die omliggende sypaadjies. Iemand wie se voet daar vashaak, gaan reg voor aankomende verkeer neerslaan.

Hierdie mangate wat letterlike struikel-blokke is, laat my toe mos dink aan figuurlike struikelblokke wat ons vandag in Suid-Afrika kry. Hoe lank omgekeerde apartheid nog in ons mooi land gaan voorkom sal net die Goeie Vader alleen weet. Dit sal beslis nie stop vir solank ampsdraers van die regerende party hulself aan die vettigheid van die land kan bly verryk nie.

‘n Logiese ander een is om nie lid van die ANC te wees nie, want dan kom jy nie in aanmerking vir kaderontplooing nie. ‘n Te brawe man het onlangs beweer dat kommunale grondbesit die vloek van Afrika is omdat dit alle insentief vir bewaring of verbetering van grond wegneem. Vir my kom dit egter nie naby aan kaderontplooing nie, waar lojaliteit aan ‘n politieke party of persoon swaarder as enigiets anders weeg. G’n wonder meeste van ons munisipaliteite is so opgemors nie.

Op sommige plekke bevind mense wat kwalik sonder toesig ‘n sekreet sal kan skoonmaak, hulle in hogere gesagsposisies net omdat hulle lojale partylede is. Toemaar, dis die nuk van alle politici. Ons sal maar moet sien of die DA die uitsondering kan wees as hulle aan bewind kom. Hulle maak minstens die regte geluide. Die ou NP het in 1948 met ‘n predikant as leier ook nie juis daarin kon slaag nie. Die DA sit ook nou met ‘n predikant as leier. Kom ons hou duim vas dat bevoegdheid by hulle swaarder gaan weeg as party lojaliteit na die aanvanklike huisskoonmaak van onbevoegde ANC kaders.

‘n Ander struikelblok is vir leerders om darem effens te kan lees en skryf en tot 10 te kan tel wanneer hulle die skool verlaat. Is dit ‘n wonder wanneer mens besef dat die grootbaas van onderwys in SA ook terselfdertyd die leier van die heel laaste kommunistiese party in die wêreld is, volgens ‘n prominente dagblad? Lyk my die telprobleem begin sommer heel bo.

Gelukkig het ek ‘n eie figuurlike struikelblok nou oorwin. Wanneer ek op straat voorkeer word en daar verwag word dat ek moet help met geld, mieliemeel of ‘n brood en dit lyk of die een voor my so pas van die 7de vet jaar in Egipte teruggekeer het, kan ek met ‘n vriendelike glimlag sê dat dit nie juis lyk of hy honger ly nie en toe ek laas gekyk het, het ek nie die Munt of die Reserwebank besit nie. So dankie, maar nee dankie, gaan vra ‘n bydrae by die vet katte van die politiek.

Onchristelik? Juis nie. As iemand my wil oortuig dat hy armoedig is, moet hy darem minstens behoeftig lyk, beide na kleding en liggaam. Is hy of sy sowat 20 kg oorgewig en volgens die nuutste mode aangetrek met ‘n nuwe jappie oorbel en hy verwag ek moet geld gee kry ek net daar ‘n humor faling. Dis dan dat ek heel gemoedelik kan sê: “Eet bietjie minder en werk bietjie meer, dan gaan jy genoeg hê vir jou eie en ander se behoeftes.”

Dis heel anders as die geval onlangs in ‘n groot winkel waar ‘n ouma saam haar opgeskote kleinseun by die kassiere staan met ‘n hopie kruideniersware voor haar, alles basiese lewensmiddele. Die items is reeds opgelui, maar toe sy wil betaal, kom sy verwilderd agter dat die kind se maandelikse toelaag nog nie beskikbaar is nie. Dis toe dat ‘n man agter haar die kassier se oog vang, sy bankkaart aanbied en die R287 betaal. Dit is Christelik en naasteliefde. Dit is toegeneentheid jeens mekaar waar daar werklik behoefte is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button