Chené Cloete (6) – "Ja Nelson Mandela was die president, maar hy is nou dood. Hy sorg dat almal 'oraait' is en hy sê ook vir almal wat om te doen as daar moeilikheid is," sê Chené.
LOUIS TRICHARDT – Nelson Mandela is op 18 Julie 1918 gebore. Hy was die eerste president van ‘n volledig-demokratiese Suid-Afrika. In 1999 is hy deur Thabo Mbeki opgevolg as president. Mandela was die president van die ANC vanaf Julie 1991 tot Desember 1997 en president van Suid-Afrika vanaf Mei 1994 tot Junie 1999.
Op 5 Desember 2013 het die huidige president van Suid-Afrika, Jacob Zuma, die land in treur gedompel met die nuus dat Mandela op 95-jarige ouderdom in sy huis in Johannesburg oorlede is.
Review het met kleuters gesels om te hoor of hulle weet wie Nelson Mandela is en of hulle weet wat die werk van ‘n president is.
Xander Pienaar (6) – “Nee, jammer ek kan nie help nie, ek ken hom glad nie,” antwoord Xander. Maar toe Review wou hoor of hy weet wat die werk van ‘n president is, kon hy vinnig antwoord. “President wees is soos ‘n werk, hy pas honde op laat hulle nie weg raak nie. En hy maak ook huise en velde skoon,” sê Xander.
Luan Pienaar (4) – “Ek dink ‘n president moet die land oppas, maar ek ken nie vir Mandela nie,” sê klein Luan.
Reghardt du Preez (5) – “Nee, ek ken hom nie, maar ek het hom op televisie gesien toe hy dood is. Hy het vir Jesus gehelp om goed te plant. En hy het ook baie ander goed gedoen,” sê Reghardt.
Lillian Gildenhuys (4) – “Wie? Nee tannie ek ken hom nie, sê Lillian verslae. ‘n President is soos my juffrou hy moet ons skool en kinders oppas. En die ander mense ook,” glimlag Lillian.
Darius du Preez (7) – “Ja ek weet wie Nelson Mandela is,” antwoord hy knap. “Hy was ons vorige president. Sy werk was om die dorp op te pas van skelms. Hy moes ook kyk dat alles skoon is en reg is,” glimlag Darius.
Tiaan Scheepers (5) – “Nee ek ken nie vir Mandela nie, maar ek ken vir Jacob Zuma. ‘n President is iemand wat die land se besluite maak,” verduidelik Tiaan.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!