Verkeersman en onderwyser vertel ons lesers meer oor hulle beroep
DIE week vertel Bosveld ons lesers meer oor die beroep van 'n verkeersbeampte en 'n kleuterskoolonderwyser.
MOKOPANE – DIE week vertel Bosveld ons lesers meer oor die beroep van ‘n verkeersbeampte en ‘n kleuterskoolonderwyser. Die twee beroepsrigtings dra by tot ‘n positiewe verskil in ons samelewing.
Pieter Labuschagne, beter bekend as ‘Lappies’, vertel vir Bosveld meer van sy beroep as ‘n verkeersbeampte.
Labuschagne is al vir 18 jaar ‘n verkeersbeampte by die Mogalakwena verkeersdepartement, en sê dat elke uur sorg vir ‘n nuwe uitdaging. “‘n Paar van jou verantwoordelikhede as verkeersbeampte sluit in toneel beveiliging op ongelukstonele, skolierpatrollie, spoedwetstoepassing, die bekamping van roekelose/dronk bestuur en die begeleiding van optogte en abnormale vragte.
“As ‘n verkeersbeampte is dit ook binne jou reg om ‘n verdagte te arresteer vir roekelose of dronk bestuur of indien hy versuim om vir jou inligting te verskaf. Jy moet ‘n liefde vir die werk hê en nie slegs werk vir die salaris nie, want dan gaan jy nooit sukses bereik nie.
“Opofferings is sinoniem met die werk, maar dit bied ongelooflike werks-tevredenheid, want jy dien ‘n doel en dra positief by tot die gemeenskap,” vertel Labuschagne trots.
Labuschagne sê indien jy ‘n beroep as verkeersbeampte oorweeg, moet jy oor goeie mensekennis beskik. Jy moet ferm wees, en baie belangrik, jy moet regverdig wees en die werk met trots kan beoefen. Jy benodig ‘n gr. 12 kwalifikasie en jou bestuurderslisensie om te kwalifiseer waarna jy vir ongeveer nege maande opleiding kry by ‘n verkeerskollege soos by die bekende Boekenhoutskloof verkeerskollege in Pretoria.
“Daar is drie verskillende vlakke van kwalifikasies wat jy binne vier jaar kan bereik,” sê Labuschagne. “In die beroep werk jy nie gewone kantoorure nie, maar skofte wat van dorp na dorp verskil volgens die behoefte van die gemeenskap.
“In Mokopane werk jy een week ‘n skof van 13:00 tot 21:00, waarna jy ook deurnag op roep is en jou volgende skof werk jy weer van 06:00 tot 14:00. Die verkeersbeamptes in Mokopane is uniek, want hul is ook opgelei om hulp te verleen in brandbestryding en om slagoffers op ongelukstonele uit hul motors te bevry.
“In die beroep moet jy bereid wees om min by die huis te wees en jy moet weet dat jy nie vooruit kan beplan nie, maar sonder verkeersbeamptes sal die getal in padongelukke dramaties styg en wanorde sal ontstaan. ‘n Bestuurder mag kwaad raak wanneer jy hom beboet vir ‘n nie-padwaardige wiel, of indien hul die spoedgrens oorskry, maar hierdie ‘klein’ oortredings kan lei tot die dood in ‘n ongeluk. Ons verrig dus ‘n baie belangrike doel elke dag en dit is om padveiligheid en die bestuurder se veiligheid op te skerp. Padveiligheid begin by die bestuurder se gesindheid teenoor padregulasies!”
Lindie Peens, eienaar van Ortloff”s kleuterskool gesels met ons oor haar beroep.
Peens vertel dat sy elke dag haar passie beoefen deur met kinders te werk by Ortloff’s kleuterskool. “Die beroep is beslis die moeite werd, want jy as onderwyser help en leer elke dag ‘n kind. Kinders is die toekomstige leiers van ons land en dit is my verantwoordelikheid om die saad te plant vir n goeie toekoms en te help bou aan daardie kind se fondasie.
“Kleuterskoolonderwys is ‘n voldag beroep. ‘n Mens moet jou volle aandag ten alle tye op verskillende plekke kan fokus. Dit verg ook daaglikse beplanning om die kinders op ‘n opvoedkundige en interessante manier besig te hou. As onderwyser probeer ons om daagliks die kinders se belangstelling in verskillende velde te prikkel en ons leer hul die grense.
“Elke kind is uniek en moet dus daarvolgens hanteer word, sê Peens met ‘n glimlag. Haar raad aan toekomstige kleuterskoolonderwysers is: “jy moet ‘n groot liefde vir kinders hê, jy moet kreatief wees, aktief en oor hope deursettingsvermoë beskik. Jy moet regverdig, gedissiplineerd en hardwerkend wees asook empatie en simpatie kan betoon. ‘n Goeie humorsin is belangrik en ek glo jy as onderwyser moet kinders kan inspireer. ‘n Goue reël is jy moet ‘n passie hê vir die beroep en ten alle tye voorbereid wees.”
Sy sê jy kan grondslagfase-onderwys deur enige universiteit studeer of selfs aanlyn deur UNISA en die kwalifikasie kan binne vier jaar bereik word.
“Om ‘n kwalifikasie in kleuterskool-onderwys te hê is uitstekend, want maak nie saak waar jy jouself in die wêreld bevind nie, daar is altyd ‘n kleuterskool. Sy vertel dat dit soms so maklik lyk om ‘n onderwyser te wees, maar glo my dit is nie. Daar is oorvol klaskamers, papierwerk, en daaglikse probleme van ouers. Om ‘n onderwyser te wees verg baie selfopoffering en dit is ook nie ‘n halfdag beroep nie, jou pligte duur voort in die middae. Ek sal dit steeds aanbeveel, want al het dit dalk ‘n paar nadele oorskry die voordele die nadele. ‘n Groot voordeel is ons help kinders op ‘n daaglikse basis en die grootste motivering is die liefde wat jy vir die kinders ontwikkel.”





