SAPD, inwoners vat hande
"Wat te erg is, is te erg," só het inwoners van Ladanna besluit. Die polisie en die gemeenskap van Ladanna gaan saamstaan om misdaad in hierdie woonbuurt hok te slaan.
POLOKWANE – “Wat te erg is, is te erg,” só het inwoners van Ladanna besluit.
Die polisie en die gemeenskap van Ladanna gaan saamstaan om misdaad in hierdie woonbuurt hok te slaan. In die vroeë oggendure van Sondag, 19 Julie, het Danie Grobler, eienaar van ‘n besigheid in Witklipstraat, gehoor dat daar by sy winkel ingebreek is. Die agterdeur en veiligheidshek was oopgebreek en albei kluise sowel as sigarette is gesteel. ‘n Bedrag geld is ook uit ‘n ander kluis gebuit. Slegs twee dae later het iemand weer by die winkel ingebreek. Hiérdie keer is die alarmstelsel uit die muur gebreek en twee selfone is gebuit.
“Daar is mense wat hulle bes doen om hul eie lewens en die lewens van hul werknemers te verbeter, maar dit word vernietig deur mense wat alles moontlik doen om te steel. “Vir die mense wat sê misdaad betaal nie, wil ek sê dat dit slegs die geval is wanneer jy die slagoffer is. Verder word almal betaal: die alarmmaatskappy, want daar moet ‘n nuwe stelsel ingesit word, die versekering en natuurlik die inbrekers. Dis net die slagoffer wat verlies lei,” sê Grobler. Hierdie voorvalle is maar net twee van die talle huisbrake en inbrake by besighede in die Ladanna-omgewing oor die laaste paar maande.
Die Westenburg polisie is verantwoordelik vir Ladanna en het besluit om ‘n gereelde vergadering met die gemeenskap van Ladanna te hou om die probleem hok te slaan. Volgens kapt. Mohlaka Mashiane, woordvoerder van die Westenburg polisie, word die vergadering gehou sodat die gemeenskap van Ladanna en die polisie kan hande vat en saamstaan teen kriminele-aktiwiteite.
Die gemeenskap sal laat weet word waar en wanneer die vergaderings sal plaasvind. “Dit is belangrik wanneer daar misdaad in ‘n area voorkom dat die gemeenskap en die polisie mekaar in die oë kan kyk en inligting kan uitruil. Waar die gemeenskap en die polisie saam staan, staan kriminele nie ‘n kans nie,” het Mashiane gesê.




