‘n Kunsfees vir ‘n goeie doel
M deesdae op 'n karige pensioen van R1 410 te oorleef is moeilik en daarom is die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes daar om te help.
MOKOPAN E- OM deesdae op ‘n karige pensioen van R1 410 te oorleef is moeilik en daarom is die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes daar om te help.
Al raak jou vel dun, vol blou kolle en plooie bly oudwees ‘n voorreg. Of jy nou gesond is, of afhanklik van ‘n bed, rolstoel of loopapparaat is, bejaardes sukkel om te oorleef met hul klein pensioen, sê Estelle Hartzenberg, bestuurder van die Dienssentrum.
Die Dienssentrum is 28 jaar gelede op die been gebring om ondersteuning te bied aan bejaardes 60 jaar en ouer wat op die dorp woon.
Die sentrum het die afgelope jaar dienste gelewer aan 618 lede waartydens meer as 21 000 etes voorsien is.
Meer as 18 000 etes is tuis by bejaardes afgelewer.
Huis- en tuinhulp is ook teen ‘n baie lae fooi beskikbaar.
Die Dienssentrum het ‘n haarsalon en skoonheidsalon waar bejaardes teen spesiaal beskostigbare pryse hulself kan bederf.
Hulle kan ook deelneem aan trimgim, volksang en speletjies of sommer net ‘n goeie boek uitneem.
Bejaardes word ook na winkels, dokters en hospitale vervoer wanneer nodig.
Die Dienssentrum se hooffondsinsamelingsprojek, Die Kierieklapperkunstefees, word vanjaar vir die 15de keer van 6 tot 10 Augustus aangebied.
Die inkomste wat met die aanbieding van hierdie fees gegenereer word, word teruggeploeg om die Dienssentrum se wiele dwarsdeur die jaar aan die rol te hou.




