VROUEMAAND: Hoe vrouwees gedefinieer word in ‘n byderwetse era
Die hart agter die sukses van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes is die bestuurder, Estelle Hartzenberg.
MOKOPANE – STAP ‘n mens by die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes in tref die hartlike atmosfeer ‘n mens wat gevul is met ‘n gevoel van omgee en liefde. In die een vertrek word ‘n vrou bederf met ‘n pikante nuwe haarstyl terwyl ‘n ander haar neus diep in een van die sentrum se biblioteekboeke het. ‘n Gelag weerklink waar twee mans sit en gesels oor ‘n koppie koffie. Dit is duidelik dat dié dienssentrum ‘n tweede huis vir die bejaardes is en die hart agter die sukses van die sentrum is die bestuurder, Estelle Hartzenberg.
Die rooikopvrou met haar diepblou oë ontvang Bosveld met ope arms. Terwyl ons by haar lessenaar sit vertel sy opgewonde van al die planne rondom die Kierieklapperkunstefees,’n inisiatief van die dienssentrum wat vanjaar sy 15de bestaansjaar vier.
Estelle is al vir vier jaar die bestuurder van die Dienssentrum en sy en haar man Gabriel spog met drie kinders.
Hoe sal sy vrouwees definieer?
Vrouwees is sinoniem met sag en sterk, die sterkte kom van God, en die sagtheid is deel van ons hartklop.
Watter vrou is vir jou ‘n rolmodel?
Sy dink nie eers daaroor nie en sê: “My ma, Bettie Botes. Sy is nou 89 jaaroud, maar gister het sy konfyt gekook en vandag bak sy beskuit. My pa is op die jong ouderdom van 44 oorlede en my ma, wat in daardie stadium ‘n huisvrou was, moes toe die skoene as pa en ma volstaan. Sy is ‘n vrou duisend, sag, sterk, positief en lief vir die Here,” vertel Estelle met bewondering.
Wat is vir jou die lekkerste van vrouwees?
Die kapasiteit om lief te hê en te versorg, al die mooi klere, kleure, parfuum, lipstiffie, waarsonder ek nooit is nie, en natuurlik ‘n dag by die spa. Ek kry altyd die mans so jammer, want stap jy by ‘n klerewinkel in is die opsies vir hulle tussen grys en blou. My klerekas vorm sy eie reënboog.
Wat is die lekkerste daarvan om ‘n ma te wees?
Ek het drie dogters en ons kan ure lank buite op die stoep met ‘n beker koffie in die hand sit en gesels. Die hegte band wat vorm tussen ‘n ma en ‘n kind is onbeskryflik. Hulle is my beste vriendinne.
Defineer vrouwees.
Dit is om ‘n sagte-wyf te wees en om dit wat God in jou geplaas het te kan uitdra na die mense om jou. Een van haar leuses, waarvolgens sy lewe, staan ook teen haar bloedrooi muur geskrywe, “You have the power to create your own world.” Ek glo in positiewe denke. Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.
Watter raad het jy vir jou mede – ‘sussies’?
Wanneer ‘n krisis opduik sit dit agter jou en vra wat is die volgende stap. Kyk altyd na die silwer randjie in jou storm van probleme en vertrou en weet dat God jou deur enigiets kan dra. Maak God jou nommer een in jou lewe en die res sal volg – jy kan nie vanself ‘n sagte wyf wees nie!




