Koffie of tee, altyd met ‘n bietjie liefde
Sy is nie geleerd nie en kan nie lees nie, maar op haar werksdrag is haar naam geborduur, en dié wys sy graag vir jou.
POLOKWANE – Sy is nie geleerd nie en kan nie lees nie, maar op haar werksdrag is haar naam geborduur, en dié wys sy graag vir jou.
Haar glimlag en die woorde “hoeveel suiker?” is wat dié vrou ewe gewild maak onder die personeel in die skoolkantoor van Hoërskool Pietersburg, asook besoekers aan die skool.
Lina Letsoalo het in 2006 by die skool begin werk nadat sy vir ‘n gesin in die stad gewerk het wat verhuis het. Sy vertel haar werk behels skoonmaak en koffie- of teemaak, maar dat sy “meer lief is” vir haar werk as wat woorde kan beskryf.
Lina het nooit die geleentheid gehad om te gaan studeer nie en kan op die ouderdom van 54 steeds nie. Juis oor haar eie swaarkry het sy haar voorgeneem om nie toe te laat dat haar eie kinders “ook so sukkel nie”.
Sy het hulle almal “self deur die skool gesit” en sekergemaak hulle kan lees en skryf.
Haar kinders se ouderdomme wissel tussen 28 en 14 en sy klim elke berg moontlik om vir haar kinders geleenthede te skep.
Oor haar skoolloopbaan vertel Lina dat sy saam met haar ouers op ‘n plaas gewerk het en dat sy van jongs af geleer is hoe om kos te maak, skoon te maak en na die diere om te sien.
Sy is nooit geleer hoe om te lees of skryf nie.
“Ek is bly oor alles wat ek by my ma en pa geleer het, en vir al die mense by wie ek geleer het, maar ek sou ook graag in die skool wou leer om te skryf en lees,” vertel sy.
Lina word in September 55 en vertel die leerders van die skool behandel haar baie goed en die personeel bederf haar met inkopies en geskenke omdat sy as enkelouer maar sukkel sedert haar man in 2001 oorlede is.
Sy mag dalk nie boekgeleerd wees nie, maar die personeel in die kantoor beskryf haar as die mens met die meeste gevoel vir mense.
“Sy is een van die mense met die grootste hart wat ek nog ontmoet het en haar liefde vir alle mense maak van haar die een met wie almal wil praat en vir wie almal hul geheime vertel,” sê Anne-Marié Schoeman, skakelbeampte vir die skool.
Lina self sê sy praat nie oor ander se geheime nie, en sien haarself as die vrou wat die tee bring. In baie gevalle is sy ook die vrou wat saam met die koffie, so ‘n bietjie liefde ook bedien wanneer mense dit nodig het.




