Familiedag vir Hekkie ‘n enorme sukses
Die familiedag verlede Saterdag by La Bamba ten bate van die jong kankervegter Hekkie Grobler (12) was deur oud en jonk ondersteun en geniet.
MOKOPANE – Die familiedag verlede Saterdag by La Bamba ten bate van die jong kankervegter Hekkie Grobler (12) was deur oud en jonk ondersteun en geniet.
Hekkie is in Maart met Leukemie (bloedkanker) gediagnoseer en is tans in die Unitas Hospitaal in Pretoria waar hy aansterk nadat sy broer, Kobus (10), onlangs ‘n deel van sy beenmurg aan hom geskenk het.
Kobus het Saterdag saam met al sy vriende op die springkasteel baljaar en trots aan Bosveld van sy dapper daad vertel.
Kobus is Woensdagoggend op die gewilde Jacaranda radiostasie as een van hulle Super Kids vereer. “Al was ek ‘n bietjie bang wou ek graag my boetie help en sien ek daarna uit om weer saam met hom ‘n rugbybal te skop,” het hy oor die radio met trots gesê. Es-Marie Grobler sê die hele familie is vreeslik trots op Kobus en in Mokopane word hy as ‘n ware Potties held beskou.
Malie Janssens, ‘n getroue vriendin van die Grobler-gesin, vertel aan Bosveld dat die silwerrandjie rondom die gryswolk sigbaar raak.
“Hekkie se eetlus is stadig, maar seker besig om terug te keer en die dokter het bevestig dat die beenmurg wel begin groei het, maar ons bly op ons knië, want dit is steeds ‘n dobbelspel.”
“Dit is waarlik ‘n riem onder my hart om te sien dat die gemeenskap omgee. Ons is opreg dankbaar vir almal se ondersteuning, gebede en liefde,” sê Es-marie Grobler en Johann Nortier.
Dit was Janssens se inisiatief om ‘n familiedag te hou in ‘n poging om die finansiële las te verlig. Sy bedank al die borge en mense wat die dag ondersteun het asook vir Chris en Pieter wat almal met sang vermaak het. Sy bedank ook in besonder die La Bamba Girls ( Lelanie Velloen en Mariska Nel) vir hulle harde werk.







