POLOKWANE – ‘n Egpaar wat in Modjadjiskloof werk, het laas week net-net ‘n motorkaping vrygespring toe hulle deur drie mans op die pad na Modjadjiskloof byna van die pad afgetrek is.
Neels en Zelodia Martins was op Woensdag, 4 November baie vroeg op pad werk toe, toe Zelodia iets in die oop stuk veld gesien staan en haar man laat stilhou het.
“Ons was oppad werk toe en het iets in ‘n oop stuk veld gesien staan wat soos ‘n babastoeltjie lyk. Ek het dit vir my man gewys en ons het gestop en hy het nader geloop.
“Dit was ‘n babastoeltjie toegegooi met ‘n babakombers,” vertel Zelodia.
“‘n Mens hoor van so baie babas wie weggegooi word en ons het gedink dis ook wat hier gebeur het.”
Zelodia vertel haar man het toe nader gestap om te kyk of daar ‘n baba onder die kombers is toe sy sien hoe drie mans uit die lang gras verrys. Sy het toe die toeter begin druk.
“My man het teruggekeer na die motor toe en die drie mans het toe ook reguit op ons afgestorm.
“Ons het egter vinnig weggery maar die mans het agter ons aan geskree en klippe gegooi,” vertel sy.
Die egpaar glo as hulle langer daar vertoef het, sou die motor gesteel gewees het.
Polisie – waarsku motoriste om nie lukraak stil te hou nie
Die woordvoerder vir Polokwane polisie, kapt. Ntobeng Phala, sê soortgelyke sake is nie by die polisie aangegee nie, maar hy waarsku motoriste om veral versigtig te wees wanneer hulle vroeg soggens en laat aande op die pad moet wees.
“Probeer om nie te stil te hou vir vreemde dinge langs die pad nie en rapporteer sulke gevalle dadelik aan die polisie om te ondersoek,” maan Phala.
Hy sê die naderende Feesseisoen bring vreemde dinge gewoonlik navore, ook betreffende roof en selfs kapings. Die polisie skerp juis hulle patrollies en sigbaarheid in baie van die probleemgebiede op ter beter beskerming van die groter gemeenskap.




