Valke lê beslag op R600 miljoen dwelms, toerusting in Musina
Polisie het vyf verdagtes op 'n plaas in Limpopo in hegtenis geneem ná die ontdekking van 'n grootskaalse, industriële dwelmvervaardigingsoperasie.
LIMPOPO – Die Limpopo Valke het Donderdagaand op ‘n grootskaalse kristalmetamfetamien-laboratorium en toerusting met ‘n straatwaarde van R600 miljoen beslag gelê.
Die Valke, in samewerking met verskeie SAPD-eenhede, waaronder die Suid-Afrikaanse Narkotikaburo, Misdaadintelligensie, die Spesiale Taakmag, die Teen-dwelmagentskap en Binnelandse Sake, het op ‘n plaas buite Musina toegeslaan ná weke se intelligensiewerk.

Derde laboratorium in Limpopo gesluit
Vyf verdagtes is in hegtenis geneem. Beamptes het ook dwelms en vervaardigingstoerusting, sowel as ‘n aansienlike bedrag kontant gekry.
Volgens die polisie is dit die derde soortgelyke laboratorium wat in die provinsie ontbloot is.

Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 20 en 47, en sluit twee Meksikaanse-burgers, twee Zimbabwiese-burgers en ‘n Malawiese-burger in.

“Nêrens om weg te kruip nie,” sê Hawks
Provinsiale hoof van die Valke, major-generaal Gopz Govender, het gesê die operasie moet as waarskuwing dien vir georganiseerde misdaadgroepe.
“Die beslaglegging is nie bloot die hoeveelheid dwelms wat van die strate af verwyder is nie, maar dit verteenwoordig die ontwrigting van ‘n hele misdaadonderneming. Ons sal die geld, die netwerke en elke persoon wat aan hierdie operasie verbonde is, opspoor.”

SAPD belowe beslissende optrede
Provinsiale polisie kommissaris, luitenant-generaal Jan Scheepers, het bygevoeg dat dié operasie, polisie se dringendheid bevestig om dwelmsindikate uit plaaslike gemeenskappe te verwyder.
“Ons sal nie toelaat dat ons gemeenskappe ‘n mark word vir misdaadsindikate nie. Diegene wat hierdie gevaarlike middels vervaardig en versprei, moet weet dat wetstoepassing hulle sal inhaal. Hierdie operasie bewys dat ons beslis sal optree teen die dwelmbedryf.”
Watch Limpopo provincial commissioner Lt Gen Jan Scheepers, provincial head of the Hawks in Limpopo Maj Gen Adv Gopz Govender and Vhembe district commissioner Maj Gen Eddie Van der Walt on the ground at the Musina farm where the suspected R600m drug lab was seized. pic.twitter.com/VgJwh6hvCW
— Polokwane Observer (@PolokwaneObserv) August 21, 2026
Verdagtes Maandag voor die hof
Die vyf verdagtes sal Maandag, 24 Augustus, in die Musina Landdroshof verskyn.




