
LOUIS TRICHARDT – André van Niekerk en sy vriendin, Anna Behmer, het nou slapelose nagte omdat hul erf nou oop is nadat ‘n munisipale bakkie Sondagaand deur hulle muur in Kleynhansstraat gebars het.
“Ek het agter in die erf gestaan en dit het vir my geklink asof mense in ‘n stryery betrokke is en op mekaar skree. Terwyl die mense op mekaar skree het ek ‘n voertuig om die draai hoor kom gevolg deur ‘n harde slag,” sê Behmer.
Die slag was veroorsaak deur ‘n munisipale bakkie wat deur die muur van die erf gery het. Van Niekerk en Behmer het na die voorerf gehaas waar die ongeluk gebeur het om te help indien iemand beseer is. Gelukkig was daar geen beserings nie.
Die polisie en die Soutpansberg Dorpswag was vinnig op die toneel waarna die bestuurder van die bakkie saam met die polisie weg is. ‘n Munisipale werker wat by die toneel opgedaag het, het aan Van Niekerk gesê dat hulle vroeg Maandagoggend die muur sou herstel.
Dinsdagoggend het die Makhado Munisipaliteit by Van Niekerk se huis opgedaag en verduidelik dat hulle ‘n tydelike plan sou maak omdat die mure wat nodig was om die herstelwerk te doen, eers gemaak moes word.
Van Niekerk en Behmer is nou snags sonder slaap omdat enige een nou toegang tot die erf kan verkry. Hulle honde kan ook nie deur die aand oopgemaak word nie, want dan kan hulle die erf verlaat.
Review het met die Makhado Munisipaliteit woordvoerder, Louis Bobodi, gesels om te hoor wanneer die munisipaliteit die muur sou regmaak, maar daar kon geen informasie rakende die ongeluk teen Woensdagoggend verkry word nie.
Makhado polisiewoordvoerder, konst. Irene Radzilane, kon ook teen Woensdag (gister) nog geen informasie rakende die ongeluk verskaf nie.



