
MOKOPANE – “As ‘n kind van God was ek nie bang om te sterf nie, maar as ‘n ma en vrou wou ek nie doodgaan nie. Ek en my man het aanhoudend gebid en ek het geestelik geweet God is in beheer.”
Hierdie is die woorde van Monica Swart (30) nadat sy en haar gesin die derde teiken Sondagaand van ‘n gewapende roof in minder as ‘n maand op die dorp was. Die gesin is van R400 000 se goedere beroof.
In die Swart-gesin se huis in Charl Cilliersstraat staan ‘n Kersfeesbed gereed voor die televisie waar die gesin van plan was om saam Sondagaand fliek te kyk.
‘n Rustige aand het in etlike minute in ‘n nagmerrie ontaard toe hulle deur drie gewapende verdagtes oorval is.
Jacques Swart (32), Monica se swaer, vertel: “Dit was omtrent 19:00 en ek was in my woonstel, toe my deur oopgestamp was en drie verdagtes pistole in my gesig gedruk het.
“Hulle het my beveel om stil te bly en op my maag te lê waarna my hande en voete met kabelbinders vasgebind is.
“Where are the other people”, het hulle gevra en ek het hulle gesmeek om hulle te spaar. Een van die verdagtes het by my gebly en die volgende oomblik het ek my skoonsus hoor skreeu.
“Ek het onophoudelik vir hulle veiligheid gebid.”
Heimrich Swart (30) sê die verdagtes het ‘n pistool in sy gesig gedruk en hulle is beveel om op hulle mae te lê.
“Ons hande en voete is met kabelbinders vasgebind. My vyfjarige seun het in sy kamer gaan wegkruip, maar hulle het hom gaan haal en ek en Monica het hulle gesmeek om ons kinders uit te los.”
Monica vertel verder, die verdagtes het haar en haar seun in sy kamer laat lê en vir Heim en hulle jongste seun (3) in sy kamer laat platlê. Hulle het gevra waar die kluis is, asook vir geld en gewere.
Volgens Heimrich het hy opgekyk toe twee van die verdagtes hulle pistole aan weerskante van sy kop druk en sê; look down.
“Hulle het die huis geplunder en die goedere van selfone, ‘n laptop, televisie en juwele in ons motor gelaai en teruggekom om vermoedelik my jongste seun saam te vat. Ek en Monica het hardop saamgebid en weer gevra, “take everything but please leave our children. Die verdagtes het rustig met ons kar uitgery en die hek agter hulle toegetrek. Die hele voorval het binne sowat 7 minute afgespeel.”
Jacques sê hy het die kar hoor wegtrek en homself met ‘n skêr losgesny waarna hy sy broer, Monica en die kinders gaan bevry het. “Ons het die nooddienste gekontak en binne vyf minute was die buurtwag, polisie en die gemeenskap daar om te help.”
“Die verdagtes is opgelei, geklee in swart militaristiese uniforms en hulle praat suiwer Engels. Hulle het ons verseker dop gehou en ons drie honde aan hulle gewoond gemaak. Na my mening slaan die verdagtes toe wanneer die alarm nie geaktiveer is nie.”
‘n Buurman van die gesin, Basie van Huyssteen, sê hy het sowat drie weke gelede ‘n verdagte man in die straat gewaar en dit het gelyk of hy ‘n opname maak van wat in die erf aangaan.
“Ek het uitgeloop om hom te konfronteer, maar hy het toe reeds die hasepad gevat.”
Netstar het die gesin se gesteelde kar om 23:00 in Mamelodi opgespoor, maar die verdagtes het hulle ontwyk, sê Heimrich. Volgens konst. Irene Masingi, woordvoerder van die Mokopane polisie is geen verdagtes tot dusver gearesteer nie, maar ‘n deeglike ondersoek duur voort.




