1 agter tralies danksy reaksie-offisier
Danksy die deeglike en knap ondersoek van Rassie Erasmus, reaksie-offisier van Suricat Armed Response, is 'n verdagte wie Vrydag 'n skootrekenaar uit 'n sakeman se voertuig gebuit het, Saterdag in hegtenis geneem.
MOKOPANE – Danksy die deeglike en knap ondersoek van Rassie Erasmus, reaksie-offisier van Suricat Armed Response, is ‘n verdagte wie Vrydag ‘n skootrekenaar uit ‘n sakeman se voertuig gebuit het, Saterdag in hegtenis geneem.
Pieter Fourie, ‘n sakeman van Pretoria, vertel hy het Vrydag om 12:45 in Nelson Mandela-rylaan gestop en sy voertuig gesluit waarna hy ‘n draai in een van die winkels gemaak het. Toe hy teruggekeer het na sy voertuig het by besef sy skootrekenaar is gesteel en het dit dadelik by die Mokopane Polisiestasie gaan rapporteer.
“Volgens beeldmateriaal van Peters Supermarket wys dit hoe drie verdagtes met ‘n afstandbeheerkontrole die elektroniese golwe van my voertuig se toesluitstelsel omkrap, en dus sodoende toegang tot my voertuig verkry het,” vertel Fourie.
Volgens Erasmus is Suricat Saterdag genader nadat die plaaslike buurtwag hulle gekontak en ingelig het dat die verdagtes weer in Nelson Mandela-rylaan gewaar is.
“Ek het na die beeldmateriaal gekyk en só die verdagtes erken, wat gelei het tot die vastrek van een van die verdagtes.”
Erasmus sê hy het die verdagte aan die Mokopane Polisie oorhandig. Hy vermoed die skootrekenaar is reeds verkwansel.
Fourie bedank Erasmus vir sy vinnige en flinke optrede asook vir Chris Venter van Peters Supermarket, vir die bekendmaking van die beeldmateriaal.
“Ek is teleurgesteld in die diens van die plaaslike polisie, nadat ek hulle Saterdag gekontak het met die inligting dat die verdagtes weer in dié straat gewaar is en ek geen hulp van hulle ontvang het nie.
“Ek gaan dit beslis met die stasiebevelvoerder opneem,” sê Fourie Maandag aan Bosveld.
Erasmus doen ‘n beroep op die gemeenskap om dubbel seker te maak jou voertuig is behoorlik gesluit, want die gebruik van ‘n afstandbeheerkontrole is ‘n heersende tendens in Mokopane.




