Hoop vir ‘n vredevolle Kersgety hierdie jaar
BOSVELDPRAATJIES: Na Wyk 32 se verkiesing het daar nou 'n genadige Facebook stilte oor die stemmery neergedaal, maar darem nie sonder so 'n paar dwarsklappe vir oulaas nie.
Na Wyk 32 se verkiesing het daar nou ‘n genadige Facebook stilte oor die stemmery neergedaal, maar darem nie sonder so ‘n paar dwarsklappe vir oulaas nie.
Mokopane Sakekamer is as die DA se handperd uitgeskel en almal wat vir dié gestem het, is as ongelowiges uitmaak – spelfoute met gebrekkige leestekens en al. Glo omdat laasgenoemde party aborsie sou ondersteun.
Daar word egter niks gerep oor enige party se standpunt oor selfdegeslag verbintenisse nie. En dit is juis so ‘n kontensieuse saak met die dat die NG Kerk se Algemene Sinode eers “ja” daarvoor gesê het en toe weer “wag nog so ‘n twee jaar”. Is dit miskien omdat die mes te naby aan die been sou sny? ‘n Week of wat gelede berig ‘n koerant van die kamstige dokter, uit Nigerië nogal, wat in Polokwane gearresteer is omdat hy daar praktiseer het. Niks snaaks daaraan nie, want dit lyk my mos hoeka of die “mediese spesialiste” wat uit Kuba ingevoer word om die dokters te vervang wat uit SA na Kanada en elders verkas, omtrent alles weet van ingroei toonnaels tot blouwildeboepenskoors. Hy is dus klaarblyklik in goeie geselskap. Die kersie op die koek is egter dat hy toe in die hof verteenwoordig word deur, reg geraai, ‘n kamstige prokureur. Lees ek ook in die grootste Afrikaanse weekblad van die steelma in Kaapstad wat nou beweer dat sy nooit 18 jaar gelede ‘n dogtertjie uit ‘n hospitaal gesteel het nie, maar dat ‘n vreemde vrou haar die baba in die hand gestop en toe verdwyn het. Miskien glo die regter haar wanneer die saak iewers in die nuwe jaar voorkom, maar ek dink haar kanse daarvoor is omtrent so goed as Zuma s’n om op te hou met giggel in die parlement en ‘n slag die probleme in ons land ernstig op te neem. Beter Helfte en ek het vir ‘n wyle die snikhete Limpopo verruil en vir 10 dae in die Suide van die land loop staan en bibber. As Mokopane op 38 grade staan, dan bewe die kwik op Colesberg, of Kaapstad, of Bredasdorp so by 13 grade rond. Heeltemal onsindelik en totaal buite seisoen, daardie koue, sê ek julle. So daag ons Saterdag by ‘n troue in ‘n bos buite Klein Brak op. Van Beter Helfte se mooie uitrusting was daar nie sprake nie. Sy bibber in alles wat warm maak en daarvan het ons bitterlik min saamgeneem. Die arme bruidjie staan daar in haar prentjiemooi somerstrourok, kaal arms en ‘n rug wat tot omtrent so by haar naeltjie se agterkant gesny is. Sy is blou van die koue, maar trou, trou sy en trourok die dra sy. Ek glo die bruidegom het nogal sy hande vol gehad om haar daardie aand in die bruidskamer bietjie warm te kry – letterlik, bedoel ek nou. Ag ja, en daar kanselleer die eens trotse Volkskas en Saambou en Trustbank toe ook sommer hul ABSA borgskap vir die Springbokke. Of is hulle reeds herdoop na gekwesde Bokke? Hopelik sal die R100 miljoen plus per jaar wat die bank daardeur spaar, darem by beleggers se rentetjies gevoeg word. Dit lyk egter of daardie geld ook landuit gaan om die moedermaatskappy in Haar Majesteit se domein, Barclays Bank, se boete in die VSA te gaan help betaal. Smaak my omtrent die enigste goed wat vinniger as geld landuit gaan, is onse president, ministers, hogere staatsamptenare en munisipale raadslede op hul veelvuldige buitelandse besoeke. G’n wonder die pres. dring aan op ‘n nuwe vliegtuig nie. Met al die besoeke is die SAL s’n waarskynlik voos gery. Dan wonder mens ook hoekom ‘n middernagtelike hofbevel nodig sou wees om koerante te keer om oor ‘n memorandum te berig wat blykbaar presies uitspel hoe beroerd dit by die einste SAL gaan – die feit dat die einste SAL deur belastingbetalersgeld in die lug gehou word, biedêm.
Kersfees is ‘n tyd vir vrede op aarde, liefde jeens jou naaste en toegenëendheid tot ander mense. Lyk my egter nie of dit hierdie jaar vir Mokopane beskore gaan wees nie. Mense, hou maar julle veiligheidshekke toe, julle motordeure gesluit en wantrou vreemdelinge wat te naby aan julle kom.
Hierdie jaar is dit Mokopane se beurt om in die seisoen van “… en in die mensdom ‘n welbehae” onder misdaad deur te loop, as ek moet oordeel aan wat net in die laaste twee weke in die dorp gebeur het.




