3 nagtegale bekoor met stemme
Drie talentvolle sangers van Encore Studio op Mookgophong is onlangs beloon vir hulle harde werk.
MOKOPANE – Drie talentvolle sangers van Encore Studio op Mookgophong is onlangs beloon vir hulle harde werk.
Onder leiding van Bianca Mocke, sangmentor van die Mookgophong-, Mokopane- en Modimolletakke van Encore Studio, het die drie sangers erkenning gekry by die NEA (National Eisteddfod Academy).
Moné du Plessis en Cecilia Bosch, beide gr. 7-leerders van Laerskool Nylstroom op Modimolle en Kaylyn Botha, ‘n gr. 5-leerder van Mookgophong, was uitgenooi na die NEA Awards wat op 10 November in die Atterburyteater in Pretoria, Gauteng gehou is. In die uitdunrondte het hulle diploma’s verower vir prag prestasies van 90%+. Hulle is aangewys as die onderskeie itemwenners vir Limpopo en Noord-Gauteng, wat Pretoria en Centurion insluit.
Kaylyn Botha was die itemwenner vir gr. 5 vokale Country & Western, terwyl Moné du Plessis itemwenner vir gr. 7 was in die Vocal Motion Pictures-afdeling. Cecilia Bosch wen die gr. 7 Vocal Gospel-afdeling, asook Vocal Own Choice, sy is ook een van die medalje wenners vir die Vocal Pop-afdeling.




